Die huidige krisis in Suid-Afrika gaan oor meer as #feesmustfall. As ‘n mens kyk na die Nasionale Vervolgingsgesag se optrede teen die minister van finansies, is dit ‘n konstitusionele krisis.
So het die Nasionale Konsultasie van Kerkleiers in ‘n verklaring gesê na afloop van ‘n vergadering op 19 en 20 Oktober. Hulle het besin oor Johannes 10:10 en wat Jesus se verwysing na “lewe, en dit in oorvloed” vir Suid-Afrika beteken.
Die krisis in die land vind neerslag in faksie-konflik in openbare instellings. Dit skep onstabiliteit en trek die aandag af van fundamentele kwessies soos die stryd teen armoede, werkskepping en gehalte gesondheidsorg vir almal.
Die byeenkoms het ernstige kommer uitgespreek oor staatskaping wat die samelewing ondermyn en die land se finansiële soewereiniteit bedreig.
Daarby het hulle kennis geneem dat daar ‘n tekort van 50 000 maatskaplike werkers in die land is en dat ‘n nasionale plan vir maatskaplike ontwikkeling, in lyn met die Nasionale Ontwikkelingsplan, dringend nodig is.
Oor onderwys het die kerkleiers gesê dis ‘n regverdige en morele pleidooi om te vra vir gratis, gedekolonialiseerde onderwys van hoë gehalte. Die kerkleiers het egter ook gesê van die metodes wat deur studente gebruik word, doen afbreek aan hulle “edel stryd”. Hulle het studente gevra om met waardigheid en respek vir lewe en vir nasionale bates op te tree.
Hulle vra al die betrokke partye om te werk vir oplossings en om die akademiese jaar van 2016 suksesvol te voltooi.
Oor die ekonomie het kerkleiers gevra vir goeie gesprekke oor ekonomie en teologie.
Na gesprekke met “senior verteenwoordigers van die tesourie het die kerkleiers ook gesê hulle kry die gevoel dat daar groot hoeveelhede staatsgeld “lek”. Hulle vra alle betrokkenes om dringend daaraan aandag te gee. Dit vererger die lot van armes.
Die kerkleiers het gesê lewe in oorvloed beteken onder meer dat mense goeie gesondheid moet geniet. Hulle het hulle kommer oor aspekte van die gesondheidstelsel uitgespreek. Dit sluit in dat party gesondheidswerkers in die openbare gesondheidstelsel hul pasiënte nie met respek behandel nie.
Onder die deelnemers aan die gesprek was vier verteenwoordigers van die NG Kerk. Hulle is ds Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen), dr Gustav Claassen (Algemene Sekretaris), dr Willie van der Merwe (rektor van die Hugenote Kollege) en dr Braam Hanekom (Wes-Kaapse predikant vir publieke getuienis).
