Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Noord-Kaap is besorg oor ‘nuwe standpunte’

Die NG Kerk in Noord-Kaapland is bekommerd dat die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake (Atlas) se standpunte oor hermeneutiek, Skrifgesag en Skrifgebruik in botsing is met die NG Kerk se bestaande standpunte hieroor.

Dié kommer word uitgespreek in ʼn beswaarskrif wat die sinode van Noord-Kaapland goedgekeur het en waarin daar ook gevra word dat die Algemene Sinode herbesin oor die besluite van 2015 oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.

Die sinodebesluit stippel nie die redes vir die kommer uit nie, maar verwys na “nuwe standpunte” in die bylaes van die taakspan leer en aktuele sake wat voor die Algemene Sinode van 2015 gedien het. Hulle vra die Algemene Sinode om oor hierdie botsing te besin.

In  ʼn verslag van drie bladsye (bronnelys uitgesluit) wat die sinode as motivering vir die beswaarskrif aanheg, word onder meer gesê dat die Ou Testament se seremoniële en burgerlike wette nie meer van toepassing is op Christene nie, maar dat die morele wette steeds geld.

Oor die argument dat die Bybelse verwysings na seksuele dade tussen mense van dieselfde geslag nie verwys na die verbintenisse van liefde en trou waarvan daar vandag gepraat word nie, sê die verslag daar is talle kenners wat anders oordeel daaroor.

Die verslag neem ook standpunt in teen die wyse waarop die Algemene Taakspan Leer en Aktuele sake die algemene openbaring van God in sy argument gebruik en sê:  “Dit is ons oordeel dat die Skrif die enigste bron van die suiwere waarheid is en derhalwe ook die enigste bron van die suiwere kennis van wat sedelik reg en verkeerd is.”

Die verslag verskil verder oor die manier waarop die liefde ingespan word in die argument vir verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Noord-Kaapland se besluit sê ook dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil, en daarom moet die soeke na waarheid in ’n gees van luister, sensitiwiteit, smeking, dringendheid en verantwoordelikheid benader word, wagtend op die leiding van die Heilige Gees.

Die sinode pleit voorts by die algemene sinode “om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees hulle nie oortuig het nie”.
Nood-Kaapland beklemtoon in sy besluit dat alle mense met respek en liefde behandel moet word, vra dat gays met sensitiwiteit en liefde bedien word en vra vergifnis waar dit nie gebeur het nie.

Die sinode bevestig dat hulle die huwelik as ʼn verbintenis tussen een man en een vrou sien en dat die gesin ʼn hoeksteen van die Christelike gemeenskap is.

Daarby spreek die sinode die oortuiging uit “dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ’n volwaardige lidmaat van Sy kerk is en as sodanig as ongesensureerde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk”.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top