Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

SA het God nou nodig

“Net Jesus kan ingryp en liefdeloosheid in Suid-Afrika laat verdwyn.”

Dit is die mening van ds. Willem Badenhorst, geestelike leier van die NG gemeente Moreletapark in die Ooste van Pretoria. “Net God kan die vonk van herlewing en nuwe lewe verskaf en Sy volk moet hulself verootmoedig en Hom daarvoor vra,” sê hy.

Badenhorst en ds Jannie Pelser van die NG gemeente Rant-en-Dal-Prisma in Krugersdorp help om mense in die NG Kerk te mobiliseer om op 19 November ʼn massabyeenkoms op die FNB-stadion in Soweto by te woon met die oog hierop.

Die organiseerders wil ʼn honderdduisend mense betrek by “die grootste, geestelike versoeningsbyeenkoms ooit in Gauteng”. Toegang is gratis, maar sitplekke moet vooraf by Computicket bespreek word.  

Die evangelis Angus Buchan, wat die hoofspreker by die “Sacred Assembly” gaan wees, sê die byeenkoms is maar een stap in ʼn poging om die ganse Suid-Afrikaanse nasie te verlos van ʼn vernietigende gees van geweld, korrupsie, haat, onvergewingsgesindheid, woede en negatiwiteit.

“Op ons eie kan ons dit nie doen nie, want ons kan nie op mense-prinse vertrou nie. Dit is slegs moontlik as ons opreg berou het en vir die Prins van alle prinse om vergifnis en leiding vra”.  

Hy sê Suid-Afrika moet erken en berou toon dat ons op soveel vlakke ʼn kompromie met Goddelike standaarde toegelaat het.  

Buchan sê as ons in erkenning en heilige verootmoediging vra, sal God antwoord volgens Joël 2: 18 en 19: “Die Here is baie lief vir sy land. Hy was jammer vir sy volk. Die Here het vir sy volk gesê: “Ek stuur vir julle al die koring en wyn en olyf-olie wat julle nodig het. Ek sal julle help. Die ander volke sal julle nie weer spot nie.”

Hy doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om die byeenkoms op 19 November by te woon: jonk, oud, swart, wit, bruin, Indiërs, mans, vroue en kinders. Dit is bedoel vir elke individu – myners, studente, predikers, boere, sportmense, huisvroue, oues van dae, onderwysers, politici, sakemense en werkloses, “want ons moet as ʼn nasie vir God vra om in te tree en oor te neem in die uitdagende situasie waarin ons verkeer.”

Pelser sê daar is tienduisende Christene wat die geleentheid nie kan bywoon nie, doodgewoon vanweë demografiese redes. Daarom vra hulle dat die mense wat nie die geleentheid kan bywoon nie, Sondag 20 November 2016,  in hul plaaslike gemeentes hulself voor God sal verootmoedig.

Dié inisiatief vloei voort uit die byeenkoms van 19 November en staan bekend as “Terug Kerk Toe Sondag”.

“Terug Kerk Toe” is ʼn metafoor vir ʼn nuwe en betekenisvolle toekeer na God. Dit is ʼn nuwe begin in plaaslike kontekste wat ‘n bydrae kan lewer om Suid Afrika op ʼn pad van genesing en herstel te bring. Gemeentes van alle denominasies en regoor Suid Afrika word gevra om op dié Sondag toewydingsgeleenthede tydens eredienste te reël.

Hieroor is daar meer inligting op Toekomsvenster se facebookbladsy.

Badenhorst sê: “Die NG Kerk het so ʼn groot rol om in elke gemeenskap te vervul, dat elke lidmaat moeite moet doen om Saterdag 19 November na die FNB Stadion te gaan.”

“Of om Sondag 20 November in jou eie gemeente jouself voor God te verootmoedig en opreg Sy aangesig te soek vir die situasie in ons land,” het Pelser bygevoeg.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top