Daar is diversiteit in die NG Kerk. Gemeentes hoef nie oral dieselfde te dink oor alles nie, het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, aan die Oostelike sinode gesê.
“Daar is genoeg waaroor ons dieselfde dink,” het Janse van Rensburg gesê.
Dít was deel van ‘n gesprek oor kerkverband. Dit was duidelik dat daar in die Oostelike sinode heelwat wantroue is oor die Algemene Sinode en sy besluitnemingsprosesse.
Van die argumente wat aangevoer word, is dat die Algemene Sinode besluite op gemeentes afdwing, dat hulle uit voeling is met gemeentes, “van bo af” besluit en dat gemeentes onvoorbereid was en onkant betrap is deur die besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.
Janse van Rensburg het die sinode daarop gewys dat die afgevaardigdes na die Algemene Sinode dominees en ouderlinge is wat almal uit gemeentes kom.
Hy het die belang van verskeidenheid in die kerk beklemtoon en gesê diversiteit lê aan die hart van missionaliteit.
In sy inleiding tot die gesprek oor kerkverband het Janse van Rensburg die eenheid van die kerk beklemtoon. “Gemeentes is selfstandig, nie onafhanklik nie,” het hy gesê.
Die diep verbondenheid aan mekaar vloei voort uit die diep verbondenheid met die Drie-enige God, het hy gesê.
Hy het ook daarna verwys dat Nuwe Testamentiese beelde vir die kerk, soos die huisgesin van God en die volk van God, telkens in die enkelvoud is. Dis nie die “volke” van God nie.
Hy het verwys na die Wêreldraad van Kerke (WRK) waartoe die NG Kerk weer toegelaat is, as so ‘n gestalte van eenheid. Oor die WRK het hy gesê dis ‘n missionale organisasie waarin die teologie van David Bosch leef.
Hy is na die WRK toe met die vraag of dit maar net ‘n humanistiese organisasie is, maar toe hy die Koptiese en Ortodokse en Pentakostalistiese verteenwoordigers hoor praat oor gestuurdheid en oor Christus, het hy gevoel hulle praat almal dieselfde taal: die taal van die evangelie.
Janse van Rensburg meen die NG Kerk se teologiese nadenke het skade gely deurdat die kerk so lank buite die WRK gestaan het.
Hy het onder meer vertel hoe die NG Kerk saam met ander kerke deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) kans kry om ‘n getuienis by die regering te laat hoor. Die NG Kerk is ook saam met ander kerke betrokke by bemiddeling in die #feesmustfall-betogings.
Hy het beklemtoon dat dié soort ekumeniese samewerking ook op plaaslike vlak moet gebeur. Daarsonder sal die NG Kerk nie sy missionale rol kan vervul nie.
Oor die algemene sinodale verband van die NG Kerk hy gesê daar moet weer gedink word oor strukture en oor deelnemende besluitneming. Dit is nie heilsaam vir die kerk as besluite geneem word wat soveel spanning wek soos in die onlangse verlede nie.
Daar is eenheid en diversiteit in die kerk en dit is gesond. Die verskillende dele van die kerk kan mekaar help om dieper te onderskei wat God se wil is.
Hy het egter ook gesê dat ‘n stelsel van ratifikasie waar ‘n besluit wat geneem word eers deur almal goedgekeur moet word, nêrens heen lei nie.
Janse van Rensburg het sy kommer uitgespreek daaroor dat die NG Kerk se voordeur baie klein is, terwyl die agterdeur wawyd oop staan. Hy het gesê dis baie moeilik om in die NG Kerk in te kom, terwyl die vrug van die NG Kerk se werk in ander kerke sit.
