Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die gewese hotel in Mosselbaai wat van smetplek na skuilplek verander is – met baie hulp van die gemeenskap, onder meer ’n skenking van R2 miljoen van PetroSA, ’n plaaslike maatskappy. Foto’s: Annalise Wiid

’n Hawe is vir anker en vir uitvaar …

In Mosselbaai is ’n haglike ou bordeel-hotel onlangs omskep in ’n veilige hawe vir mense wat sonder heenkome ronddobber op die lewensee. Anna­lise Wiid vertel van een van haar lekkerste onderhoude ooit.


Halfpad teen die bult uit, van waar ’n mens ver kan uitkyk oor die blinkblou see, staan The Haven-nagskuiling. ’n Statige Tudor-styl gebou. Dik, donker, sterk houtbalke wat struktuur en steun gee aan drie verdiepings lewe. ’n Wonderlike beeld van wat ook binne die gebou gebeur.

My instap-gewaarwording is: Dit ruik skoon. Piet Maree, die bestuurder, nooi my glimlaggend binne. Hy was hoof van ’n vaardigheidskool vir matig-gestremdes. Vroeg pensioen gevat. En is nou dolgelukkig hier waar dit maar “op en af” gaan. “Vandag word jy geskel, môre word jy geseën. Never a dull moment!”

Sy staatmakerpersoneellede beaam dit, laggend. Jody Julies, Raylene Pretorius, Alma Kotzé en Miriam Carelse werk skofte as “supervisors”. Hulle is die gas­vroue van die skuiling: Ontvang inwoners, dokumenteer hulle besonderhede, sorg dat hulle stort, skoon bed­degoed, klere, medikasie en drie maaltye per dag kry.

Dié vroue werk dat hulle hop! Die skuiling het plek vir 86 mense en is gewoonlik driekwart vol. In die winter tjok-en-blok. “Daar kom byna elke dag nuwe mense in. En ander gaan uit, en weer aan met die lewe …”

Natalie Speelman, die maatskaplike werker, sorg vir struktuur in elke inwoner se persoonlike program, sowel as vir opvolg en nasorg. Baie hooi vir ’n een-vrou-vurk.

Maar hulle fyn-uitgewerkte stelsel is goed ge-olie: Van ’n interkom-stelsel, polisie-visintering en ’n “holding room” as veiligheidsmaatreël; tot by noukeurige boekhouding. Elke inwoner word, binne ’n week, voorsien van ’n “exit plan” en ’n IDP – individual development plan. Die skuiling verskaf nie goedkoop akkommodasie aan leegleërs nie; hulle lewer ’n diens. Inwoners bly maksimum ses maande. En nooit verniet nie. Elkeen betaal daagliks ’n geringe bedrag. Of werk in die skuiling.

Samewerking is hulle sleutel: Met die inwoners, die gemeenskap, sowel as die Kaapstad-gebaseerde moe­der-organisasie, The Haven, waarvan hulle deel is. Hulle visie: Niemand hoef op ons strate te leef nie. Hulle missie: Bring die hawelose huis toe.

man-op-bank
Gary Olivier, een van The Haven se inwoners, sit op ’n rusbank. Oor sy herstel is Piet Maree opgewonde. Hy sê dit is ’n suksesverhaal wat hy hoop gaan hou.

Die skuiling is slegs ’n tydelike tuiste – waar mense gehelp word om eerste treë te gee na ’n beter lewe. Inwoners word gehelp met ID-kaarte en SASSA-aansoeke. Daar word met die plaaslike polisie, kliniek, hospitale, kerke en welsynorganisasies ge-netwerk: Om inwoners geestelik en liggaamlik gesond te kry; hulle te help werk soek; en weer hulle familie op te spoor. Die skuiling se hooffunksie is herintegrasie: Om haweloses met behoort-mense te herenig. Die “fa­mi­lie” waar ’n ontheemde weer kan tuiskom, is soms nood­gedwonge breër as blote bloed-bande.

Benewens die werk in die skuiling, doen Alma Kotzé ook veldwerk; maak kontak met mense op straat. ’n Hele klomp vuur-en-vlam vrywilligers is ook van groot hulp. Dit is groter as net ’n NG Kerk-projek, hoewel ds Robert Knobel van Mosselbaai-Suid die projek help vestig het.

“En dit was nie maklik nie,” vertel Piet. “Sewe of agt jaar se sukkel om die ding op dreef te kry. Mense was aanvanklik baie teësinnig. Nou is die gemeenskap vol­uit betrokke. Mense sien die plan werk; hulle wil graag deel wees daarvan. Ons bedryfsbegroting van ongeveer R45 000 per maand (net vir kos, skoonmaakmiddels, water en ligte – salarisse uitgesluit) word feitlik volledig gedek deur skenkings uit Mosselbaai en omgewing. Verskeie ander kerke is ook betrokke.

Morgan was die enigste mens wat langer as ses maande in die skuiling gebly het – oor hulle so lief geraak het vir hom. Hy het vertel hy is ’n prokureur, het ’n huis …

Snags het hy water heen en weer geskink in plastiek­bottels. Onophoudelik. Op ’n dag oorgestap bank toe; daar in ’n denkbeeldige kantoor gaan sit en op ’n denk­beeldige rekenaar begin werk. Dag in, dag uit. Die bankmense het hom maar laat begaan. Tot die bank-vrou sy dogter in Johannesburg opgespoor het. Sy was oorstelp. Twaalf jaar lank het sy gedink haar pa is dood.

Sy het hom so gou moontlik kom haal. Hy wou eers nie gaan nie. Te lief vir sy skuiling-familie. Tot hy haar sien. Hulle het ’n dag lank in Piet se kantoor gepraat en gepraat en gehuil en gepraat …

Al wat Morgan daarna wou saamvat Johannesburg toe, was die ou kombersie waarmee hy by die skuiling aangekom het. En sy versameling waterbottels.

Raak dit soms rof? Piet lag: “Daar was al ’n paar klap­pe tussen inwoners. Veral op all-pay, of ‘rooi-prop­pie’-dag – vernoem na ’n voorkeur produk van die nabygeleë bottelstoor. Ons sê net: Gaan sorteer jul­leself buite uit. Dan bedaar hulle gou weer. Eintlik kom almal verstommend goed met mekaar klaar.”

Want hier anker dobber-mense tydelik, in ’n veilige, verwelkomende hawe – waar hulle die nodige kan af- en oplaai, om versterk en met waardigheid weer uit te vaar na, hopelik, ’n beter eindbestemming …

Lees meer by www.haven.org.za of skakel The Haven by 044 691 0189.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top