Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Bal is in Oos-Kaap se ringe se hande

Die bal is wat die NG Kerk in Oos-Kaapland betref, in die hande van ringe om met innoverende maniere van kerkwees na vore te kom.

Ds Danie Mouton, direkteur van die sinode, het dit gesê in ‘n sessie oor identiteit, visie en roeping in die Oos-Kaapse kerk.

Hy het verduidelik dat die sinode geruime tyd gelede al begin het om sinodale werk en strukture drasties af te skaal en om ringe te versterk.

“Ringe moet waar die tekkie die teer tref, innoverende dinge doen wat die kerk in ‘n nuwe fase van missionaliteit kan inlei,” het hy gesê.

Mouton het twee soorte verandering onderskei.

Tegniese verandering is verandering waar jy weet wat die uitkoms daarvan gaan wees, en wat jy met die nodige kennis en bronne kan deurvoer. Dit is soos wanneer ‘n gemeente ‘n sopkombuis vir armes wil begin. Met die kennis van sop kook en die geld of groente wat nodig is, kan ‘n gemeente so ‘n projek deurvoer. Dit verander egter nie die mense wat die sopkombuis bedryf nie.

In ‘n missionale bediening is tegniese verandering soms nodig, maar aanpassende verandering is nodiger, het Mouton gesê.

Aanpassende verandering is ‘n reis waarvan die uitkoms nie voorspel kan word nie. Dit is soos wanneer ‘n gemeente besluit om saam met armes te eet en te aanbid. Dis ‘n proses van saamgroei, sonder dat jy of die teikengroep weet waartoe dit gaan lei.

“Sonder aanpassende verandering, gaan ons uitsterf,” het Mouton voorspel. Die NG kerk moet oor grense gaan. Die probleem is dat baie mense so “geweldig tuis in ons eie vel” is.

Vir aanpassende verandering is daar nie ‘n bloudruk nie. Dit gaan oor doen en nadink en weer doen en weer nadink. Dis ‘n aanhoudende siklus. Dis belangrik om beheer prys te gee, het Mouton gesê.

Innovasie is ‘n kreatiewe maar onsekere proses wat stappie vir stappie gebeur. Dit gaan gepaard met baie foute waaruit ‘n mens leer, maar waaruit nuwe geloofsgemeenskappe gevorm word.

Van die probleme wat Mouton genoem het, is dat party dominees nog dink die ring wil hulle kontroleer en dat hulle daarom die ring moet teenstaan met alles wat hulle het. “Kom ons los daai geveg,” het hy gesê. Die ringe moet help om te innoveer.

Op party plekke dink die dominees ook dis verby met die NG Kerk. Hulle probeer net water trap om aftrede te haal.

In die terugvoer na tafelgesprekke is verskeie verhale vertel van innoverende betrokkenheid van kerke oor grense. Daar is egter ook vertel van gemeentes en ringe wat vasgeval het en sukkel om daarby uit te kom.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top