“Dis nie waar dat God nêrens is nie. God is nou hier. Nee, God is oral.”
So het dr Stephan Joubert, Nuwe Testamentikus en skrywer, sy openingsboodskap by die sinode van die NG Kerk in Oos-Kaapland opgesom.
Joubert het aan die hand van Habakuk gesels. Dié boek begin met ‘n klag want die profeet se gevoel is: “God is nowhere.”
In die tweede hoofstuk besef hy: “God is now here.” God is egter nie ‘n hemelse diensverskaffer of eenstopdiens nie. Habakuk leer om te wag, maar nie op gebedsverhoring of diensverskaffing nie. Hy wag op God self.
“God bring nie die deurbraak nie, Hy is die deurbraak,” het Joubert gesê.
Dis eers as Habakuk in Hoofstuk 3 besef dat God nie net hier is nie, maar dat Hy oral is, dat hy kan begin sing. Dít het Joubert in verband gebring met Paulus se sang in die tronk in Filippi.
Joubert se boodskap het gekom na ‘n roerende seremonie waarin ‘n verteenwoordiger van elke ring ‘n gebed wat die ring geskryf het, voor die sinode gebid het. In dié gebede was die afhanklikheid van God ‘n deurlopende tema.
Dié gebede is saam in ‘n bak gesit en die verteenwoordigers van die ringe het elkeen ‘n kers aangesteek wat om die bak met gebede gestaan het.
Dr Chris van Wyk, uitgaande moderator, het gesê die simboliek daarvan is die gebedebak in die hemel.
Ds Danie Mouton, direkteur van die sinode, het afgevaardigdes herinner daaraan dat die sinode ‘n geloofsonderskeidende vergadering is. Hulle taak is om voor God, in die lig van die Woord en onder leiding van die Heilige Gees, te onderskei wat God se wil is in die sake waaroor besluite geneem word.
Mouton het gesê in die gereformeerde tradisie kom afgevaardigdes nie met ‘n mandaat van ‘n ander vergadering nie. Hulle kom sinode toe om daar God se wil te onderskei.
Die Oos-Kaapse sinode is die laaste van ‘n reeks streeksinodes wat vergader voor die buitengewone Algemene Sinode.
