God is nie soos ‘n aardse bouer wat klaarmaak en aanskuif na die volgende bouprojek nie. Langs elke gelowige is daar ‘n bordjie wat sê: “Onder permanente konstruksie van die Heilige Gees.”
So het dr Stephan Joubert gesê in sy oordenking aan die begin van die tweede dag van die NG Kerk in Oos-Kaapland se sinodesitting.
Joubert het gesê dit help soms om beelde te gebruik, terwyl ‘n mens onthou dat beelde hulle beperkinge het. Hy het in sy oordenking die beeld gebruik van God se adresse.
God se eerste adres was die tuin waarin die mens in die middag saam met God kon gaan stap.
Later het God se adres verander na die tent waar God deur Moses met die volk gepraat het.
God se derde adres was die tempel in Jerusalem. Daar kon mense gaan offer vir hulle sonde, maar daarheen kon hulle ook met hulle vreugde na God toe gaan.
Nadat die tempeldiens ontaard het, het God op ‘n nuwe manier, in die Persoon van Jesus, tussen mense kom woon. God was op straat en in Jesus kon mense sien wie God regtig is.
Joubert het gesê elke keer as God van adres verander het, kon jy meer van God leer.
Na Jesus se hemelvaart het God deur sy gees in mense kom woon. God se volgelinge word tempels van die Heilige Gees.
“Die Gees maak van rowerspelonke tempels waar God kan bly,” het Joubert gesê. “Ons is bouprojekte van die Allerhoogste.”
Hy het gebid “dat die Gees ons lei om soos lewende tempels vir U te lewe”.
