Byna 70% van predikante van die NG Kerk in die Oos-Kaap werk meer as 50 ure per week – dít terwyl die Bestuursgids van die NG Kerk maksimum 45 werksure per week van dominees verwag.
Dit is een van die bevindinge uit ‘n navorsingsprojek oor die welstand van Oos-Kaapse predikante wat by die Oos-Kaapse sinode bespreek is.
Terwyl die meeste dominees harder werk as wat goed is vir hulle, blyk dit uit die terugvoer dat dit met die meeste dominees in baie opsigte goed gaan. Tog is daar telkens ‘n beduidende minderheid van dominees met wie dit nie goed gaan nie.
So het die oorgrote meerderheid dominees goeie verhoudings met hulle kollegas, maar 19% se verhoudings met kollegas is sleg of baie sleg.
Byna 80% van dominees sorg vir hulleself deur gereeld verlof te neem, maar meer as 20% neem nie gereeld verlof nie. Sowat 63% het ‘n afdag per week, maar 37% het dit nie.
Daar is sowat 30% van predikante wat uitgebrand voel, 35% wat nie jaarliks ‘n retraite of geloofsreis bywoon nie en 32% wat voel dat hulle tydsbenutting nie goed is nie. Sowat 30% doen nie gereeld fisiese oefening nie en 20% het nie ‘n goeie slaappatroon nie.
Daarby is daar 14% van dominees wat nie voel dat hulle roeping nog duidelik en lewend is nie.
Die finansiële versorging van predikante is vir baie ‘n probleem. Sowat 79% van die dominees het ‘n volle predikantspos, maar net 59% van dominees word op sinodale skaal vergoed.
Een dominee het gesê hy is in 1992 laas volgens sinodale skaal betaal.
Die helfte van die Oos-Kaapse dominees voel hulle finansiële posisie is onseker en dat dit spanning veroorsaak. Dié probleem hou meestal verband met gemeentes se finansiële posisie.
Die navorsing is deur die sinode bespreek as deel van ‘n voortgaande gesprek in die Oos-Kaap oor die welsyn van die kerk se predikante en hoe die kerk hulle kan ondersteun. Die navorsing is ook na gemeentes deurgegee sodat hulle daaraan kan aandag gee.
Ringe en kerkrade is ook aangemoedig om aandag te gee aan verskeie aspekte wat in die navorsing na vore kom. Dit sluit in dat dominees volgens die riglyne betaal word, en dat ringe en kerkrade dominees aanmoedig om van mentors gebruik te maak.
