Tieners soek God in ‘n oorvol wêreld wat oorlaai is met inligting.
So het Mariette Dreyer, jeugwerker van die gemeente Humansdorp-Oos, aan die NG Kerk se sinode van Oos-Kaapland gesê.
Dreyer het gesê tieners is vandag baie anders as in 1989 toe sy as jeugwerker begin het.
In 1989 was tieners se grootste krisisse “Pa en Ma baklei met mekaar”, “my kêrel verneuk my”, en “my boetie baklei met my”.
Nou is die krisisse dinge soos afwesige ouers of geld wat vir die afwesigheid van liefde moet vergoed. Sy het verwys na selfskending, aggressie, tieners wat moet werk om die huis se inkomste aan te vul, selfdood “want ek pas nie in die stelsel nie”, en seks “omdat ek wil behoort”.
Haar advies was: “Wees lief vir hulle sonder oordeel.”
In jeugwerk is dit belangrik om te luister en om om te gee. As ‘n mens nie verhoudings met tieners het nie, kan jy vergeet van ‘n gesonde jeugbediening.
Dreyer het vyf pilare van jeugbediening onderskei. In die eerste plek is die Bybel belangrik. Tweedens is dit belangrik dat gebed deel word van tieners se geloofslewe.
Derdens is diens en uitreik ‘n onontbeerlike deel van ‘n goeie jeugbediening. Dit gaan nie oor vakansie hou nie. Tieners wat wil deelneem aan hulle uitreike moet volledig inskakel by die jeug.
In die vierde plek is lering belangrik. Sy het vertel hoe hulle tieners onlangs oor Martin Luther geleer het en dit baie interessant gevind het.
Die laaste pilaar van hulle jeugbediening is avontuur. “Jy moet maar die berg klim en in riviere gaan swem,” het sy gesê.
Oor die ouderdom van ‘n jeugwerker het die 48-jarige Dreyer gesê op ‘n besoek aan die VSA het sy gehoor die gemiddelde ouderdom van jeugwerkers is 52.
