Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Theuns Eloff

#feesmustfall gaan nie oor klasgeld nie

Die protesbeweging #feesmustfall het weinig te doen met klasgeld.

So het dr Theuns Eloff van die FW de Klerkstigting aan die sinode van die NG Kerk in Oos-Kaapland gesê.

Eloff het gesê sowat ’n kwarteeu na die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse studente in opstand gekom teen hulle ouers en die Nazi’s. Net so het Afrikaanse jongmense sowat ’n kwarteeu na die Anglo-Boere-oorlog geradikaliseer geraak met die mynstakings.

Hy dink iets soortgelyk gebeur nou, byna 25 jaar na 1994, met die swart jeug.

Dit het ook te doen daarmee dat min swart mense voel dat die voordele van die Nuwe Suid-Afrika by hulle uitgekom het.

Daarby is daar die bekende verskynsel in die geskiedenis van stygende verwagtinge by middelklas mense wat niks gehad het nie, iets kry en dan meer wil hê. Dit speel ook nou ’n rol.

By van die Engelse kampusse is daar ook ’n faktor dat swart studente ontuis voel.

Eloff sê die filosofiese wortels van #feesmustfall lê by die denke van mense soos Steve Biko en die Franse filosoof Frans Fanon. Hiermee saam werk swart studente met die konsep van ’n “lived experience”. Dit is iets wat net hulle kan verstaan en waaroor wit studente nie eens mag saampraat nie.

Daar is ’n antipatie teen wit mense weens die persepsie dat wit mense eintlik nog die land beheer.

Dié soort denke speel onder meer uit in die kreet om dekolonialisering. Volgens Eloff is dit nie duidelik wat dit behels nie.

Hy het gesê #feesmustfall beweeg weg van die grondwet en nie-rassigheid af. Hulle meen net wit mense kan rassiste wees, want rassisme kan net gepleeg word deur iemand wat mag het.

Die beweging skep ook die kategorie van “die ander”. Dis ’n baie gevaarlike ontwikkeling. Ander lande waar dit gebeur het, was Nazi-Duitsland en Rwanda.

Dit bring ook mee dat geen debat moontlik is nie en dat geweld in orde is.

Eloff se advies aan universiteitsowerhede was om minder papbroekig te wees, meer veiligheidspersoneel te kry en dat daar gevolge moet wees vir studente wat universiteite ontwrig.

Hy het gesê kerke moet duidelike standpunte teen geweld laat hoor. Hulle moet vra wie word werklik benadeel en bewoënheid met armes behou. Hy het ook gevra vir ’n profetiese getuienis dat die regering genoeg subsidie aan universiteite moet gee.

Eloff het gesê hy dink nie ’n rewolusie is om die draai nie. Daarvoor is daar nog te veel ander stemme in die samelewing.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top