Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Chris van Wyk. Die Oos-Kaapse sinode het besluit om nie sy versoekskrif te steun nie. Foto: Louise Jackson

Gays: Oos-Kaap besluit om nie te besluit nie

Die NG Kerk in Oos-Kaapland het besluit om nie by sy huidige sinode ‘n finale besluit oor homoseksualiteit te neem nie.

In die plek daarvan het die sinode gevra dat daar voortgegaan word met ‘n verantwoordelike proses van geloofsonderskeiding in gemeentes, ringe en die sinode.

Daarby bid die sinode dat almal in die kerk mekaar onder leiding van die Gees as liggaam van Christus sal bly vashou.

In ‘n lang, maar rustige debat was daar verskeie stemme wat gevra het dat die sinode wel nou moet standpunt inneem. Die standpunt waarvoor hulle gevra het, was voor die sinode in ‘n versoekskrif van 36 bladsye deur die vorige moderator, dr Chris van Wyk.

Daarin word gesê dat die geskrewe Woord van God die kerk se uitgangspunt moet wees in alle sake van leer en lewe. Dit voer aan dat God se toorn verskriklik is oor sondes, wat selfdegeslag- seksuele gedrag insluit.

Onder die hofie “Verlossing” word onder meer gesê die verlossing van sonde is duidelik ook van seksuele gedrag tussen mans “sodat die vernuwing van die Heilige Gees gelowiges kan help om onder andere selfdegeslag seksuele gedrag af te sterwe . . .”

Oor die huwelik sê van Wyk dat God dit tussen een man en een vrou ingestel het en dat enige seksuele gedrag buite die huwelik as destruktiewe en sondige gedrag afgekeur word.

Van Wyk skryf dat gelowige gays begelei moet word “tot die verwesenliking van God se skeppingsdoel met man en vrou deur óf die huwelik óf die beoefening van ‘n selibate lewenstyl binne die geestelike familiebande wat ons in die geloofsgemeenskap aan mekaar verbind”.

Terwyl verskeie sprekers hierdie standpunte sterk bepleit het, was daar ander wat gesê het hulle maak ook erns met die Bybel, maar dat hulle lees daarvan hulle tot ander gevolgtrekkings lei.

Die tydelike kommissie vir leer en aktuele sake het gesê die sinode is nie nou reg om te besluit nie, omdat daar ook na ander stemme geluister moet word.

Die sinode het dié standpunt met ‘n beduidende meerderheid gesteun.

Ds Jasper Louw, die moderator, het aan die sinode gesê Van Wyk se standpunt is deur Van Wyk self aan die Algemene Sinode voorgelê.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top