Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dr Stephan Joubert aan die woord by die Oos-Kaapse sinode. Foto: Louise Jackson

Jesus het ge-‘splagnitsomai’

‘n Griekse woord – splagnitsomai – is op die Oos-Kaapse sinode gebruik om by sinodegangers ‘n kernboodskap oor gestuurdheid tuis te bring.

Dr Stephan Joubert het dié woord gebruik om aan te dui hoe Jesus se hart gebreek het vir die siekes, die onreines, hongeres en ander lydendes. “Splagnitsomai” dui letterlik daarop dat iemand se ingewande van emosie draai. Dit is dié woord wat telkens gebruik word om die diep emosie te beskryf wat Jesus gevoel het voordat Hy die mense gehelp het.

Joubert het gesê kerkmense sê graag dat hulle ‘n getuienis wil lewer, maar dit is nie vanselfsprekend dat dié getuienisse werklik getuienisse is nie.

Hy het verwys na navorsing deur die Amerikaanse teoloog David Kinnaman. Hy het bevind dat daar ‘n groot kloof is tussen hoe kerkmense en die kerk sien en hoe buitestaanders die kerk sien.

“Wat Christene as ‘n getuienis sien en wat buitestanders as ‘n getuienis sien, is twee verskillende goed.”

In Jesus se geval het die godsdienstiges geen aanklank by Hom gevind nie, terwyl die armes en onreines en siekes agter Hom aan gestroom het.

“Die vraag is vir wie het jy ‘n getuienis. Die beste getuienis is as nie-kerklikes jou getuienis aanvaar,” het Joubert gesê.

Almal weet God is liefde, maar daardie liefde het ‘n sekere tekstuur, het Joubert gesê. Jesus se liefde word as “splagnitsomai” beskryf. Hierteenoor het die godsdienstiges aan “harde-hart-siekte” gely.

Joubert het gesê Jesus wil sy hart in sy volgelinge oorplant.

Hy het gesê daar is twee metafore wat beskryf hoe gelowiges by mense buite die kerk betrokke kan raak. Dit is loop en eet.

Aan die hand van die verhaal van die Emmausgangers het Joubert gesê dat Jesus, na sy opstanding, saamloop met die twee mense wat uit Jerusalem wegloop. Terwyl Hy saam met hulle loop, deel Hy die Woord met hulle. Daarna eet Hy saam met hulle.

Dít – saamloop en saameet – sê Joubert, het sy evangelisasiemodel geword.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top