Daar is diepgaande verskille in die NG Kerk oor die aard en rol van belydenisskrifte, asook die aard en wese van kerkverband in die Ned Geref Kerk.
So bevind die Appèlliggaam van die Algemene Sinode oor drie appèlle teen die besluit van die Algemene Sindode van 2015 dat streeksinodes die reg kry om hulle eie belydenisgrondslag uit te brei. Dit is die besluit wat die deur sou open dat die Sinode van Wes-Kaapland die Belydenis van Belhar by sy belydenisgrondslag sou kon insluit.
Die Appèlliggaam het die inhoudelike aspekte van die appèlle nie gehandhaaf of afgewys nie, maar beveel aan dat daar ’n deeglike studie gedoen word oor die aard en rol van belydenisskrifte in die kerk, die aard en wese van kerkverband, en die wedersydse invloed wat die twee sake op mekaar het.
Daarby moet die besluite van 2015 opgeskort word totdat die volgende gewone Algemene Sinode die studie behandel het.
Die studie moet gedoen word deur ’n taakspan wat saamgesel word uit ewe veel lede van die Algemene Taakspan Regte en die Algemene Taakspan vir Leer en Aktuele Sake. Die lede moet deur dié twee taakspanne self benoem word, sê die Appèlliggaam.
Die Appèlliggaam het die tegniese besware van die drie appèlle van die hand gewys en ’n vierde appèl teen die besluit in geheel nie gehandhaaf nie.
