Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Kuns maak my gelukkig’

“Is hulle nie oulik nie?” vra Liezl Williams terwyl sy na ’n klompie plaaskinders wys wat besig is om met klei te speel.

Jy sal Liezl, wat verantwoordelik is vir die kinderbediening by Wellington Moedergemeente, elke Donderdagmiddag hier kry. Sy stel die kinders van Blou­vlei Akademie, ’n plaasskool met 54 leerders buite Wel­lington, aan kuns en kreatief-wees bloot.

Kinders lê Liezl baie na aan die hart. Sy sê: “Ek glo dié projek sal vir hierdie kinders ’n manier wees om Jesus se onvoorwaardelike liefde en omgee deur mense te sien. Ek wil ook graag brûe tussen mense bou en dink ons moet by die kinders begin om die wêreld ’n beter plek te maak.

“Ek het twee jaar gelede tydens ’n uitreik by ’n plaasskool die behoefte raakgesien om kinders bloot te stel aan kuns en kreatief-wees weens ’n tekort aan hulpmiddels. Soms is hierdie kinders se omstandig­hede waarin hulle grootword baie sleg, en hoop vir die toe­koms baie laag. Ek glo kreatief-wees leer kinders weer glo in hul drome en gee hulle waardigheid. Ek glo dit kan weer ’n rol speel in hul ontwikkeling en mens­wees,” sê Liezl.

kreatief
Ons lief kreatief! Liezl Williams gee drukkies vir Rucan Booysen (6, links) en Melanie America (6). Onder sit Bradley Blom (7). Foto: Conette le Roux

Sy noem dit die Ek lief kreatief-projek en stel dié leerders tussen 5 en 10 bloot aan verskillende me­diums – “pastelle asook verskillende tipes kuns soos ab­strak en realisties”. Klei speel, verf en die blootstelling aan simmetrie is ook op hulle kuns-agenda.

Jackie Witbooi (48), wat verantwoordelik is vir die kinders se kos en wat ook “nasorgtannie” is, sê: “Die op­gewondenheid is groot vir tannie Liezl se kunsklas. Woensdae begin hulle al vrae vra oor die klassie. Toe hulle haar die eerste keer ontmoet, toe connect hulle.”

Vandag word ʼn potjie uit klei gemaak en Jayle Abrahams (10) sê: “Die kuns is exciting en maak my gelukkig!”

“Dis lekkerrrrr. Ek voel so lekker in my hart,” sê Jaydine Claasen (9) terwyl sy geduldig haar potjie vorm.

“Kuns en kreatief-wees maak ’n nuwe wêreld oop. Dit help met sensoriese ontwikkeling en ervarings. Ek dink dit is behalwe die blootstelling vir hulle heerlik om te mag kind wees, te mors, te gesels en te sien wat hulle self kan maak. Die glimlaggies na die maak en wys van hul kunswerke is kosbaar,” sê Liezl.

Joanie Smith – wat saam met haar man, Koos, eienaars van Blouvlei Akademie is – beaam dit: “Die projek doen wondere aan die kinders. Dit prikkel hulle krea­tiwiteit en maak ’n positiewe gevoel in hulle wakker! Hulle kan nie wag vir die volgende kunsles nie.”

Liezl vertel ’n weldoener het geld aan die kerk geskenk en het ingestem dat die geld vir dié projek gebruik word. Sodoende was dit vir haar moontlik om basiese kunshulpmiddels aan te koop. Nog ’n skenking van dié persoon maak dit ook vir haar moontlik om binnekort by Bergrivier Primêr, ook ’n plaasskool in die Wellington-omgewing, met ’n Ek lief kreatief-projek te begin, sê Liezl.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top