Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Meer as 600 bladsye met reaksies …

Meer as 600 bladsye met reaksies op die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag vorm deel van die agenda van die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk.

Dit sluit stukke in van individuele lidmate, groepe lidmate, kerkrade, ringe en sinodes. Die meerderheid daarvan is gekant teen die besluite van 2015, maar daar is ook ’n aantal wat die besluite ondersteun en vra dat dit gehandhaaf word.

Heelwat van die besware gaan oor kerkordelike kwessies. Daar word aangevoer dat die verkeerde prosedures op die vergadering gevolg is en dat die besluite wat geneem is, daarom ongeldig is.

Ander besware voer aan dat die besluite van 2015 in stryd is met die belydeniskrifte en met die Bybel self. Die kommissie wat al die voorleggings moes orden, onderskei verder ook nog besware wat te make het met etiek en besware wat te make het met die amp.

Een van die beswaarskrifte, dié van dr Johann Ernst, vorige aktuarius van die Algemene Sinode, is 84 bladsye lank. Dit analiseer die aanloop tot die Algemene Sinode van November 2009 af en ontleed die verloop van die Algemene Sinode van 2015 in besonderhede ten einde onreëlmatige prosesse aan te toon.

Onder sy talle besware tel dat die korrekte prosedures nie gevolg is nie; dat mense die sinode toegespreek het wat nie afgevaardigdes was nie; dat die teenwoordigheid van ’n groepie mense met T-hemde aan op die verhoog en sinodebode se publikasie van ’n brief van prop Laurie Gaum meegebing het dat die sinode nie kerklike sake op ’n kerklike wyse kon hanteer nie; en dat daar in een stemming meer stembriefies was as wat daar afgevaardigdes teenwoordig was.

In ’n ander beswaarskrif wat 65 bladsye beslaan, bepleit dr Chris van Wyk, vorige Oos-Kaapse moderator, dat die Bybel en belydenisskrifte die grondslag vir die kerk se denke oor selfdegslagverhoudinge moet vorm.

Hy meen onder meer dit beteken dat alle seksuele gedrag buite die heteroseksuele huwelik as destruktiewe en sondige gedrag afgekeur moet word.

Hierteenoor voer dr André Bartlett, assessor van die Hoëveldsinode, aan dat die besluite van 2015 voortspruit uit ‘n verantwoordelike hantering van die Bybel en dat dit juis ruimte laat vir verskillende standpunte binne die kerk.

Hy vra dat die besluite gehandhaaf word en dat die inklusiewe aard van die besluite aan lidmate gekommunikeer word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top