Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Ons is baie broos,’ sê moderator

“Here U weë is hoër as ons weë, as die NG Kerk se weë. Ons erken dat ons nie altyd weet wat U weë is nie. Ons is baie broos. Maak U weë aan ons bekend …”

Só het ds Nelis Janse van Rensburg, die moderator van die Algemene Sinode, die buitengewone Algemene Sinode 2016 in die NG kerk Pierre van Ryneveld in Centurion met gebed geopen.

“Waar die stroom kom, is daar lewe,” is die tema van dié sinode en daarom is die openingsliturgie vanuit Esegiël 47:1-12.

Janse van Rensburg het ʼn bietjie agtergrond oor Esegiël gegee om die boodskap duidelik te maak. Nadat Jerusalem, en daarmee saam die tempel, in 586 VC afgebrand het, het Esegiël van ʼn oordeelspreker na pastor verander.

Esegiël se boodskap het toe aan mismoedige Babiloniërs so gelyk: “Die hoop lê nie in drome oor gister nie. Die hoop lê daarin dat jul oë sal oopgaan. Dat jul sal nuut kyk.

“Kan jy sien hoe die syferwater van God loop en bymekaarkom? Kom stap saam met my stroom-op, dan wys ek jou.

“Hoë bome, volop vis. Het jy oë vir God se transformerende krag? Wat sien jy, mens?” het Nelis gevra.

Maar, sê hy, dis nie so maklik in Suid-Afrika nie. “Daar is baie brak water,” sê Nelis. Hy verwys, onder andere, na ʼn miljoen kinders wat nie voorskoolse onderrig ontvang nie.

“Sal ons praat oor die Guptas? Magsug? Wantroue en rassisme. Dít alles is soutkuile in ons land.

“Dis tyd om te verstaan dat ons ʼn land is wat dors is,” het Janse van Rensburg gesê.

So ook in die NG Kerk.

“Net die Gees van God kan die NG Kerk transformeer. Nié ʼn strategie nie. My hoop is dat ons meegesleur sal word deur die stroom van God se goedheid. Ek bid dat meer mense sal drink van dié water.

“En dat almal (leraars, kerkraadslede, lidmate) dié vraag sal antwoord: Wat sien jý Esegiël?”

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top