Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Almal drink uit dieselfde stroom

Die tegniese en teologiese gesprekke wat by ‘n sinode soos hierdie plaasvind, is baie ver verwyder van sy lidmate se belewing van kerk-wees, sê ds Louis Venter van Ottosdal.

Hy en kollegas uit die ring van Delareyville sit op die galery – as vrywillige waarnemers. Hulle wil graag eerstehands hoor hoe klink die verskillende standpunte van deelnemers aan die vergadering. Hoe klink die beredeneringe, hoe word die onderskeie oorwegings aangebied en verwoord.

Vroegoggend het hy nog effe gefrustreerd gevoel met die tegniese trant waarop die sinode gister begin het, “maar”, het hy gesê, “ek sien baie uit na die gesprek wat vandag begin.” Want hy vind die gesprekke hier verhelderend en verrykend.

“’n Mens hoor dinge waaraan jyself dalk nog nie gedink het nie. En dit help ons as dominees weer met gesprekke in ons gemeentes – veral met ouer lidmate wat wil verstaan hoe die sinode tot ‘n besluit gekom het.”

Louis vind dat mense op die platteland dikwels nie die luukse het van debatte soos dié wat tans by die sinode gevoer word nie. Nie dat mense nie ook oor die dinge dink en worstel nie. Dis net dat diepgaande gesprekke oor seksualiteit en mense se oriëntasie eerder privaat en tydens pastorale momente gevoer word. “Wanneer iemand in ‘n noute is.”

“Ons dorp is klein,” verduidelik hy. “Almal ken vir almal en mense aanvaar mekaar soos hulle is.” Hulle leef gewoon prakties met mekaar saam. Hulle sal soms, vonkel-oog met mekaar skerts oor die diep dinge, eerder as om mekaar aan te vat oor teologiese verskille.

Die enigste effek wat die vorige sinode se besluit gehad het, was dat ‘n gay lidmaat wat as diaken dien, agterna meer selfbewus gevoel het ten opsigte van gemeentebetrokkenheid. Andersins gaan hulle maar net voort om kerk te wees. En leef hulle as ‘n gemeenskap saam.

“Want sien, die gay lidmate het ook grond in die omgewing, gee ook skaap vir die basaar, is volledig deel van die dorp se sosiale en besigheidslewe.”

Verlede Saterdag het hy mense getrou, vertel Louis. Daar was drie gay pare uit die gemeente teenwoordig. “En hulle dans by die onthaal met mekaar, net soos ander pare.” In klein dorpies kan mense nie bekostig om die water te vertroebel nie – almal drink daar uit dieselfde stroom.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top