Hoe lyk die God wat ons in die wêreld moet verteenwoordig?
Ds Dirkie van der Spuy, assessor, het dié vraag gevra tydens die dagwyding van die tweede dag by die buitengewone Algemene Sinode 2016.
Hy het gevra dat sinodegangers na Esegiël 47:1-12 kyk om opnuut God en sy eienskappe te verstaan.
“Die kern van die evangelie is die lewende water wat by die altaar verbyvloei en die wêreld gaan infiltreer en verander. Dit is God en die Heilige Gees wat verandering en genesing bring,” het van der Spuy gesê.
Hy het vertel hoe Esegiël die moedelose Babiloniërs weer hoop gegee het.
“Ons God kán dinge vernuwe. Hy is die God wat weer ʼn vlammetjie van hoop kom aansteek. Water wat in die woestyn loop sê iets van die oorvloed van God.
Van der Spuy het gevra of sinodegangers glo dat God hulle gemeenskap, waar God hulle geplaas het, kan verander.
“Ons moet onthou waar God beweeg en sy Gees vloei kom daar nuwe lewe.
“Ons moet ons oopstel vir hierdie stroom van vernuwing. God bring lewe, vergifnis.
Dís die God wat ons in die wêreld moet gaan verteenwoordig,” het Van der Spuy gesê.
