Afgevaardigdes na die Algemene Sinode het ontdek dat daar baie minder verskille tussen hulle is oor die gesag van die Skrif as wat hulle gedink het.
Dit het gekom in ‘n gesprek op die sinode oor Skrifgesag, omdat onder andere die Sinode van Noord-Kaapland dit geïdentifiseer het as een van die onderliggende kwessies in die vraagstuk oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag.
Tydens die debat is daar gewys op besluite van vorige Algemene Sinodes waarin die NG Kerk se amptelike standpunt oor Skrifgesag gestel word. Uit die bespreking het dit duidelik geword dat daardie standpunte by niemand in dispuut is nie.
Verskeie afgevaardigdes het aangedui dat hulle en almal by hulle tafel dit woord vir woord kan ondeskryf.
Toe dit duidelik geword het dat dit algemeen aanvaar word dat die Bybel die Woord van God is en dat dit gesagvol is, was die vraag waar die verskille oor iets soos selfdegslagverhoudinge dan vandaan kom.
Een siening was dat dit nie gaan oor Skrifgesag nie, maar oor Skrifuitleg.
Nog ‘n mening was dat almal die amptelike standpunt van die kerk oor Skrifgesag onderskryf, maar dat hulle nie noodwendig dieselfde daaronder verstaan nie.
‘n Derde moontlike verklaring was dat dit dalk gaan oor hoe ‘n mens na ‘n saak kyk. Is dit ‘n saak wat tot die sentrum van die geloof behoort, of is dit ‘n randsaak?
Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator, het gesê hulle sal dié moontlikhede in die res van die debat verken.
