“Ons het ʼn klomp dominees wat ons hier voor begelei. Dis lekker,” het ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, gesê toe hy die sinode-band voorstel.
Ds Faani Engelbrecht, sangleier van dié band en bestuurder van Bybel-Media Musiek, sê ses van die sewe lede is dominees, maar ook musiekleiers in hulle eie gemeentes.
Bybel-Media Musiek is gevra om die musiek te hanteer by die Sinode en so het hy die FLAM-taakspanlede gevra om saam met hom ʼn band te vorm, sê Engelbrecht. Dié taakspan is normaalweg verantwoordelik vir die goedkeuring van FLAM-musiek, maar is ook almal musikante in eie reg, sê Engelbrecht.
Die band-lede, wat van verskillende gemeentes oor die land afkomstig is, het Sondagaand vir die eerste keer saam geoefen. Maandagoggend het hulle ʼn laaste keer aan die sinode-musiek geoefen voor die vergadering afgeskop het.
Engelbrecht sê die Algemene Sinode het gevra dat hulle op ʼn wye spektrum van kerkmusiek konsentreer. “Ek is mal oor ál die kerkmusiek. Ons dek graag die hele spektrum van die kerk se musiekskat. Die Liedboek, FLAM en VONKK,” sê Engelbrecht.
Op viool is ds Johan Engelbrecht van NG gemeente Hartenbos, op kitaar en agter die mikrofoon is ds Ben Klut van NG gemeente Mellville-Kruis, op klavier is ds Pierre Kies van NG Moedergemeente Mosselbaai, op baskitaar is ds Marcus Marinus van NG gemeente Krugersdorp-Oos, ds Christo Botha van NG gemeente Proteahoogte slaan die tromme en Leishé Pieterse – ʼn honneursstudent in diere-genetika aan die Universiteit van Johannesburg – sing.
