‘Kom preek vir ons in Pakistan’

Schalk van Wyk het al afgetree as predikant, maar was tog nog betrokke by die bediening. En toe word hy rektor van ’n Bybelkollege in Pakistan. Hy het vir Annalise Wiid vertel van die vreemde, wonderlike pad waarop die Here hom geneem het.


Een Sondagaand laat lê hulle nog en lees. Dis eintlik al slaaptyd. Toe piep sy foon met ’n vriend­versoek op facebook. Van ene David John. Hy onthou die grappie van die oom wat gesê het: “Ik ken al genog mense,” maar aanvaar dit niete­min.

Oomblikke later kom die volgende versoek: “Come to preach and teach in Pakistan.”

“Ek het dadelik gereageer met: ‘As soon as possible.’ En vir my vrou, Marieke, gesê: ‘Wat nou hier gebeur bepaal, beslissend, my lewensbestemming vir die komende klompie jare.’ Ek het dit net gewéét.” Toe sit hulle die lig af en gaan slaap. Dit was Februarie 2014.

tromme

Ds Schalk van Wyk word met trombegeleiding verwelkom waar hy ’n preek moet gaan waarneem.

Hoewel die kerk se getuienistaak en sendingwerk hom altyd na aan die hart gelê het, het Schalk in sy ganse lewe nooit ’n begeerte gehad om Pakistan te besoek nie. Hy was gelukkig as ’n gemeente-dominee: in Mosselbaai-Suid, Suider-Paarl en Kleinmond. In 2012 emeriteer hy. Hulle trek Kaap toe, en hy word deel van die bediening aan bejaardes by Bergsig-gemeente in Durbanville.

Byna 10 000 km noordoos daarvandaan, in die Pakistanse stad Khanewal, woon twee broers: Peter en David John. Hulle pa, Rehman John, was ’n Engels-onderwyser, ’n man met ’n besorgde hart – veral oor die kerk in Pakistan, wat werklik swaar kry.

In dié sterk Moslemland, is Christene by verre in die minderheid en meesal baie uitgelewer. Rehman John wou hulle beskerm en versorg. Hy het hom daarvoor beywer om los, ongebonde Christene in klein gemeentetjies bymekaar te bring. En het ook, met sy beperkte Bybelkennis, pastore vir die klein gemeentes opgelei.

Rehman is in 2009 oorlede, op 58. Sy mantel val toe outomaties op sy twee seuns, Peter en David – beide nog onder 30. Vyf jaar lank het hulle, saam met die pastore van die gemeentes, gevas en gebid dat die liewe Heer vir hulle iemand sal stuur om hulle te help. ’n Ouer man, met wysheid en insig, wat vir hulle teologies leiding kan gee. En op ’n dag het hulle geweet: Hulle moet vir Schalk van Wyk in Suid-Afrika kontak.

Hoe op aarde hulle dit so haarfyn geweet het, het Schalk nog nooit uitgevra nie. Hy was nog te oorweldig met die uit-die-bloute “friend request” op sy (toe nog net Afrikaanse) facebook-blad. En met die verrykende en verreikende gevolge daarvan. Hulle het nie eens gevra of hy kan “teach and preach” nie. Was selfs ook nie heeltemal seker waar Suid-Afrika is nie. Het net gevra: “Kom.” Wat is die kanse?

Nadat hulle mekaar oor ses maande op Skype leer ken het, is Schalk in September 2014 vir die eerste keer oor Pakistan toe vir ’n twee weke lange besoek.

“Die nood van die vervolgde kerk het my aan die hart gegryp. En ek het myself baie onbeholpe gevoel op die ys,” onthou hy.

Peter en David woon met hulle gesinne in die “Christian colony” in Khanewal. Feitlik elke dorp het so ’n klein Christen-ghetto. Die mense is geweldig arm, want Christene kry nie maklik werk nie. Of dan net die laagsbesoldigde werke, soos stene maak en die vuilste plaaswerk. Of hulle skrop vloere vir “mêrrims“, al is hulle ook hoe slim.

Die Sondag voor hy soontoe gevlieg het, preek Schalk by Durbanville-Bergsig uit 2 Timoteus 4:7. “Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou …”

Hy gee ’n verleë laggie. “Pakistan is ’n gevaarlike plek vir ’n Christen. ’n Mens is nie 100% seker jy kom weer terug nie.”

Die eerste ding wat die twee John-broers doen toe Schalk in Pakistan land, is om hom na hulle pa se graf te neem. En wat is sy grafskrif? 2 Timoteus 4:7. Toe Schalk vir die twee jongmans vertel dit was sy preekteks die vorige Sondag het hulle, oorstelp, net gelag. Die ys was gebreek.

En toe vra hulle” “Will you be our dad?” Dit was so maklik soos om te sê: “I will.”

Schalk is omtrent by die diep kant in. “’n Mens is heeltemal oorbluf,” vertel hy. “In die eerste plek laat hulle waaghalsige bestuurders ons taxi’s stadig en vervelig lyk. En niks kan jou op die aanslag op jou sinne voorberei nie. Al jou sintuie voel verward en totaal van balans af: oorweldig deur ’n magdom van vreemde kleure, klanke, geure, teksture, kos. En die toilette! Sommer net ’n hurk-gat in die grond. Dit vang jou skoon onkant.

“En dan is die mense nog so arm ook. Hulle huisies is bitter klein. Dikwels is daar net een kamer. Kerk­raadsvergaderings, gebedsbyeenkomste, band practise – alles vind dikwels op die dubbelbed plaas, want daar is nie ander plek nie. Snags slaap ’n mens so na aan mekaar, ’n mens verdwaal in mekaar se drome!”

Maar ’n mens raak dit mettertyd ’n bietjie meer gewoond. En jy raak baie gou vreeslik lief vir die mense. Schalk vermurwe sommer as hy vertel van Peter en David se ma, Rinie, hulle vroue, Sanita en Kommal, en Peter se dogtertjie, Libby. Almal het hom spontaan in die familie opgeneem. Almal noem hom “dad”.

bid

Ds Schalk van Wyk bid vir ’n Pakistanse man.

Maar ’n besoek daar is glad nie ’n vakansie nie, hoor. Kerk-hou is ’n lang affêre. Eers sing en bid hulle vir twee ure voor Schalk aan die woord kom. Dan preek hy. Maar hy probeer dit kort hou, ter wille van die mense wat dan reeds so lank sit. So ’n halfuur, want onthou wat hy in Engels sê, moet nog in Oerdoe getolk word. Dan word dit nóg ’n uur.

“Maar,” vertel Schalk, “laat ek dit dan net waag om ‘amen’ te sê, dan sê die tolk eenvoudig ‘no’. Die mense wil net nog en nog en nog hoor. En daarna volg hulle vorm van pastoraat: voorbidding. Dis soos in Jesus se tyd. Mense stroom nader met gesondheids-, finansiële en verhoudingsbehoeftes: En jy lê hande op en bid en bid en bid …”

Wat preek hy? Homilie. Hy lees die Bybel. Verduidelik. Pas toe. Eenvoudig. Sy tolk, Simon, is ’n pastoor. En ’n briljante krieketspeler. Hy sou waarskynlik die nasionale span kon haal, as hy nie ’n Christen was nie.

Natuurlik is daar voortdurend die gevaar van Christen-wees. Schalk mag nooit alleen uit die huis gaan nie. Hy mag ook nie sommer met die kinders in hulle straat, met Libby se maatjies, praat nie. “Die Taliban weet van alles,” waarsku sy Pakistani-vriende hom.

Wat die erns daarvan veral by hom laat tuiskom het, vertel Schalk, is toe hy vir Simon vra: “Dink jy ooit daaraan dat iemand ’n bom in julle midde sal laat ontplof terwyl julle kerk hou?” En Simon antwoord: “Dis nie ’n kwessie van of nie; eerder wanneer …”

Die Christene, veral die grootmense daar, het geen illusies nie. Volgens Sjaria-lasterwette is dit geregverdig om hulle te skiet of te stenig. Enige tyd.

Maar dit perk Schalk of die John-broers nie te veel in nie. Vir die volle duur van sy tyd daar gebruik hulle hom maksimaal. Hy preek sommer op twee, drie plek­ke per dag. Hulle klim eenvoudig in ’n riksha-taxi of op ’n motorfietsie en daar gaan hulle. Partykeer is dit groot sports. Deesdae verstaan Schalk al genoeg Oerdoe om te hoor wanneer die Pakistani’s laggend vir me­kaar sê: Kyk hoe geniet die whitey nou homself!

Oor die afgelope twee jaar het Schalk se bediening daar toenemend vorm aangeneem.

rehman-se-graf

Peter (links) en David John by die graf van hulle pa, Rehman John.

“Ek het veral besef dat my persoonlike roeping te make het met hulle pas­tore wat opleiding dringend nodig het. In die geloof het ons ’n plek gehuur, en Timothy Bible College is gebore. Nou is ek ’n rektor. Dié pretensieuse titel vir die kollege se enigste pak-eseltjie laat my verleë en die studente trots voel. Dit gee ’n bietjie status aan hulle alma mater. Ons het op die oomblik 18 studente gekeur. Hulle is dapper. Om ’n pastoor in Pakistan te word, is nie noodwendig ’n doodsvonnis nie, maar jy loop voortdurend in die skadu van die Taliban, en dít is die skadu van die dood.”

Schalk gee klas via die internet, en telkens wanneer die Here geld voorsien, vlieg hy om vir ’n paar weke fisiek by hulle te wees.

Tans is hulle in die proses om die gemeentes wat hy daar help bedien, as die Uniting Reformed Church of Pakistan te registreer. Hy het vir hulle verduidelik dat kerkeenheid baie belangrik is en dat gereformeerd beteken: Die geloof alleen, die genade alleen, Christus alleen, die Skrif alleen en die eer van God alleen. Hulle kies entoesiasties om gereformeerd te wees en wil graag met ons kerke hier affilieer.

Die 18 studente is brandarm en kan nie self vir hulle losies betaal nie. Die bediening help ook Peter se vrou, Sanita, om verder te studeer. Sy is skrander en wil graag ’n naskoolse diploma in wetenskap en wis­kun­de behaal. Dit sal haar kanse om werk te kry, verbeter. Sy het nog ’n klein bietjie meer as ’n jaar nodig om haar studie af te rond.

Schalk hoop dat van ons gemeentes hier ’n student sal aanneem en verder help. Hy het saam met sy pro­jek­span van Kleinmond ’n maatskappy sonder winsbe­jag gestig, sodat skenkers seker kan wees dat die aan­wen­ding van hulle geld onder die toesig van ’n on­­afhanklike groepie direkteure geskied en jaarliks ge-oudit sal word.

In Oktober vanjaar besoek hy weer vir twee weke sy studente. Dit is vir hom baie belangrik om hulle persoonlik en beter te leer ken. Schalk wil ook graag soveel as moontlik Suid-Afrikaanse gemeentes besoek om van die baanbreker-werk te vertel. Van sy lewensveranderende kontak met dié mooi mense van “groot geestelike gehalte”.

– Stuur ’n e-pos na swvanwyk@gmail.com om kontak te maak met ds Schalk van Wyk.