Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Span sorteerders besig om die afval soort vir soort bymekaar te sit. Foto's: Anton Doyer

’n Roeping wat op die ashoop begin

Op Graaff-Reinet is ’n lidmaat wat besig is om ’n groot verskil te maak aan die omgewing én die mense van die omgewing. Anton Doyer vertel die storie.


“Ek gaan die natuur begin skoonmaak,” is Gerhard (Pottie) Potgieter, lidmaat van NG gemeente Graaff-Reinet, se woorde aan sy vrou Charmaine.

Dit was die aand nadat sy werkers so skuins voor Kersfees in 2009 almal gedros het, en hy gevolglik nie met sy braaihout-besigheid kon voortgaan nie.

Vroeër die dag het hy by die stortingsterrein van Graaff-Reinet tuinvullis gaan aflaai en gesien onder watter haglike omstandighede mense daar woon in ’n poging om ’n lewe bymekaar te skraap uit die afval. Die gedagte om “iets te doen wat niemand anders voor kans sien nie” het by hom opgekom.

Sonder dat hy van Pottie se “werkloosheid” geweet het, daag daar die volgende dag ’n plaaslike natuurbewaarder by sy huis op met die versoek dat hy ’n herwinningsbedryf sal begin. Hulle sal help om die bal aan die rol te sit.

Dit was die geboorte van ’n omvangryke besigheid met verskillende vertakkings wat intussen inkrementeel gegroei het. Die aanvanklike vier helpers se gele­dere het aangegroei tot sewe terwyl die sorteerders op sy herwinningsperseel nou 62 mense beloop.

Op die sogenaamde “roteerstasie” waar munisipale afval gestort word, is daar ’n verdere 45 mense, onder wie Lena Steenberg, druk besig om herwinbare materiaal uit te soek, in sakke te gooi en op die wagtende vragmotor te laai vir vervoer na die depot.

Gerhard (Pottie) Potgieter voor sy besigheid wat afval hersikleer.

Verder daag daar ongeveer 200 privaat verkopers per week op wat deur Pottie betaal word vir die glas, blikkies, papier, karton, glas- en plastiekbottels wat hulle versamel. Een van die getroustes onder hulle is die doofstom Petrus Hendriks.

Dit beteken dat meer as 300 mense ’n lewe kan maak – waarvan die grooste gros bestaan uit die armste van die armes wat andersins as werkloses op die straat sou beland het.

Huisbewoners in Graaff-Reinet ontvang weekliks ’n spesiale deurskynende sakkie waarin hulle hersikleerbare items kan plaas, sonder om dit self te skei. Dit word dan weekliks voor die huis of besigheid opgelaai en na die perseel geneem vir uitsortering, verwerking (byvoorbeeld verbrokkeling van glas en saampersing en baling van papier en karton) en verpakking. Uiteindelik word dit per gehuurde 34-tonvragmotors na depots in Johannesburg geneem.

Is die besigheid winsgewend? Dit breek darem gelyk en sorg in die proses vir oorhoofse koste en lone, reken Gerhard. Daar kom wel tye dat hy fondse vanuit sy ander besigheid moet inploeg, maar dit raak al minder.

Nou waarom voortgaan as hy nie daaruit ryk word nie?

dav
Petrus Hendriks is doofstom, maar ’n ywerige hersikleerder.

Asof hy gedagtes lees, antwoord Gerhard: “Man, dis lekker. Vanoggend nog wonder ek hoe ek my mense gaan betaal, ek het net nie die kontant nie. Die volgende oomblik rapporteer my selfoon dat R20 000 onverwags deur een van die depots oorgedra is in my bankrekening!

“Buitendien, toe ek agterkom hoe swaar die mense op die ashope kry, het ek besef hoeveel ek het om dankbaar voor te wees. So, dis soort van ’n roeping – en ek put nogal plesier uit die wete dat ek help om ’n verskil te maak. Eintlik skep ek net vir hulle geleentheid om hulle eie besigheid te bedryf, want elkeen kan self besluit hoe lank en vinnig hy/sy wil werk. Afhangende van die hoeveelheid wat gesorteer of ingebring is, word hy/sy dan dienooreenkomstig vergoed.”

Inderdaad maak Pottie ’n verskil deur te help skoon­maak. Die omgewing, maar ook die strate van werk­loses wat andersins op bedel, of selfs diefstal aan­gewese sou wees om te oorleef.

Toe ons terugry, kom dié versie onwillekeurig by my op: “Vir sover julle dit vir een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit vir My gedoen” (Matt 25:40).

Ds Anton Doyer is ’n emeritusleraar.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top