Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Turksvy-temas’ wat jou lewe kan laat slinger

GESPREK SONDER EINDE
Deur Chris van der Merwe
Uitgegee deur Lux Verbi, 2016
Resensie deur Annalise Wiid


As die siel luister, spreek alles wat leef ’n taal …” Hierdie woorde van die Vlaamse digter Guido Gezelle vorm die vertrekpunt van Chris van der Merwe se Gesprek sonder einde. En dit is waarskynlik ook die raakste opsomming van Van der Merwe as skrywer. Hy skryf luisterend, ondersoekend oor dinge wat die verstand te bowe gaan. Hy is ’n man van woorde en van die Woord. En hy nooi die leser uit tot gesprek; laat die leser saam luister, saam dink, saam praat – oor ’n God van liefde en ’n geloof vol teenstrydighede. 

gesprek-sonder-eindeBy die boek se bekendstelling sê Chris: “Ek het geleer om met skoon oë na die wêreld te kyk. En, in eerlike gesprek met God, herontdek hoe radikaal die evangelie is.” Sy nering – hy is ’n afgetrede dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde – maak hom sensitief vir tekste: die Bybelteks, sowel as dié van digters en ander skrywers wat hy aanhaal. Ook vir die mens se brose aard en sy rol in God se verhaal. Chris ondersoek turksvy-temas soos die wedersydse effek van trauma en geloof op mekaar, asook teenstellings soos lig en duisternis; storms en stilte; vreugde en verdriet – en hoe ’n mens, in die konteks van die Christelike geloof, samehang kan vind wanneer jou lewe tussen dié pole heen en weer geslinger word.

Reguit vrae. Moeilike antwoorde. Soms maklik verteerbare kos, soms vaste voedsel, soms selfs aanvegbare teologie. Soos enige gesprek oor God: vol nuan­ses, sonder einde. Soms is daar geen antwoorde nie, net die luisterende oor van soekende geloof. En die diep, ryk, sprekende lewe van Christus. “Omdat die aarde en elke aardgebeurtenis en die son self, en tot die verste ster, tesame net een groot vertelsel is oor Hom en ons …” soos die skrywer NP van Wyk Louw gepas aanhaal.

* In Kerkbode van 22 Julie 2016 is ’n 10 vrae-gesprek met prof Chris van der Merwe.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top