Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

“Sodomie”, ’n gedenkplaat en die NG Kerk

Tussen skerp debatte oor selfdegeslagverhoudinge op die NG Kerk se buitengewone Algemene Sinode van 2016, het dr Gideon van der Watt teruggedink aan ʼn gedenkplaat wat ingemessel is in die plaveisel voor die Domkerk in Utrecht, Nederland. Tydens ʼn vroeëre besoek het die gedenkplaat hom diep geraak. Nou wonder hy of die geskiedenis agter dié gedenkplaat nie tog iets sê vir wat nou in die NG Kerk aan die gebeur is nie? Hy vertel die storie.


Op die gedenkplaat staan: “18e eeuw Sodomie / Barend Blomsaet en 17 andere mannen werden in Utrecht veroordeeld en gewurgd / Hun daden verswegen”

Die term “homoseksueel” dateer uit die 18/19de eeu. Vroeër is daaroor nie gedink as ʼn seksuele identiteit nie, maar bloot in terme van seksuele dade, veral tussen mans. In die 18de eeu groei daar egter die bewussyn van ʼn homoseksuele oriëntasie of -identiteit, en word dit sigbaar as ʼn subkultuur met eie gebruike, ontmoetingsplekke en jargon.

Die 18de-eeuse Nederlandse Republiek is aanvanklik gekenmerk deur ʼn groot mate van toleransie teenoor minderheidsgroepe soos die Joodse-, Katolieke- en selfs die klein homoseksuele gemeenskappe. Tussen 1730 en 1733 onstaan daar egter ʼn skielike vloedgolf van “sodomiete-vervolging”.

Die oorsprong van die term “sodomie” lê in die verhaal van die verwoesting van Sodom as gevolg van God se toorn oor ongeregtighede en seksuele vergrype. Die Genesis 19 verhaal vertel van pogings om twee mans, Lot se gaste, gewelddadig te verkrag en Lot wat toe eerder sy dogters aanbied – vreemde gasvryheidsgebruike van die tyd!

Maar, die term “sodomie” kry mettertyd die betekenis van “homoseksualiteit”.    

Hierdie heksejag op homoseksuele gemeenskappe het begin presies op die plek waar die plaveiselgedenkplaat lê – reg voor die Domkerk in Utrecht.

Die Domkerk, met die indrukwekkende, losstaande toring, die Dom, was aanvanklik gebou as Katolieke katedraal. Na die Reformasie van die sestiende eeu is dit egter deur die Protestante oorgeneem.

Die skip van die katedraal was eers tot teenaan die toring gebou. In ʼn verwoestende somerstorm in 1674 het die middelste gedeelte van die gebou – die gedeelte teenaan die toring – in duie gestort. Die skip van die katedraal en die toring is toe van mekaar geskei.

Die ruïnes van die verwoeste gedeelte het vir dekades tussen die toring en die oorblywende deel van die kerkgebou bly lê. Hierdie ruïnes het die plek geword waar homoseksuele mans mekaar in die geheim kon ontmoet.

In 1730 lê die koster van die Domkerk ʼn klag teen die “onnatuurlijke praktijken” van die mans wat daar ontmoet. Enkeles is aangekeer en onder marteling het hulle beken dat daar ʼn hele netwerk van homoseksueel-georiënteerde mense bestaan.

Die skok oor dié bekendmaking was groot. Die “Staten van Holland” vaardig vervolgens ʼn plakkaat uit waarin “sodomie” strafbaar verklaar en benadruk is dat God Nederland sou straf as daar nie daadwerklik teen die sondaars opgetree word nie.

In Utrecht is spoedig 18 homoseksuele mans skuldig bevind en wreed tereggestel. Die metode van teregstelling was ʼn stadige proses van verwurging. Die veroordeelde is met die rug teen ʼn paal vasgebind en dan met ʼn tou, wat van agter af hoe stywer om die nek en die paal getrek is, verwurg – van lewensasem beroof!

Aangevuur deur verskeie Protestantse dominees het daar ʼn vlaag “Sodomietvervolginge” dwarsoor Nederland gespoel. Tussen 1730 en 1733 is 366 mans tereggestel. Dit het alles by die Domkerk in Utrecht begin. Die woord ‘Utrechtenaar’ in die Nederlandse taal het ʼn verskuilde, skeld-term vir mense met ʼn homoseksuele oriëntasie en leefstyl geword.

Waarom die skielike uitbraak van vervolging? Geskiedkundiges skryf dit daaraan toe dat die Goue Eeu van die Nederlande begin taan het. Daar was onsekerheid in die lug, ʼn groeiende besef dat Nederland nie ʼn imperiale mag soos die naburige Pruise, Frankryk en die opkomende Brittanje was nie.

Daar was ook  ʼn groot besorgdheid oor die toestand van die dyke. ʼn Plaag paalwurms het die houtstutte uitgedolwe en die Nederlanders het ʼn bestaanskrisis in die gesig gestaar. Vir hierdie angs moes ʼn sondebok gesoek word, soos tydens die pes in die Middeleeue.

Dit was ook die eeu van die Verligting, waarin die Protestantisme verburgerlik het. Nie meer die lydende vlugtelingskerkies onder die kruis nie, maar – in die noorde van Nederland in elk geval – die hoofstroomkerk, beklee met mag, aansien en toegang tot die stads- en landelike owerhede.

Die aanhitsing het veral gekom van Protestantse leraars. Toe was die Heidelbergse Kategismus lankal reeds in Nederlands vertaal en as die belangrikste belydenis in gemeentes hanteer. In  Sondag 41, Vraag 108, word, op basis van o.a. Levitikus 18, geleer: “Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b)…” Hierdie leerstuk is op die “plegers” van homoseksuele dade toegepas, en binne dié verwronge hermeneutiek as regverdiging vir die geweld gebruik.

Na die 1730’s het die vlaag vervolgings in Nederland geleidelik plek gemaak vir toleransie.

Terug by vandag. In Suid Afrika, in terme van ons grondwet, is ons genadiglik verby die vervolging van mense op grond van seksuele oriëntasie. In verskeie van ons buurlande (byvoorbeeld Zimbabwe en Malawi) is “homoseksualiteit”, en veral homoseksuele dade, egter steeds ʼn kriminele oortreding, selfs strafbaar met die dood. Kerke ondersteun die staat hierin.

Die Afrika-verstaan van gender, patriargie en mag speel ʼn groot rol, maar ook ʼn letterlike lees van die Skrif onder invloed van veral Amerikaanse, fundamentalistiese “Evangelicals”.

In die NG Kerk is mooi besluite oor die gelykwaardigheid van alle mense geneem en word gay mense vriendelik uitgenooi om ten volle deel van die gemeenskap van gelowiges te wees. Maar, word daaraan toegevoeg, solank hulle net nie leef wat hulle is nie! Hieroor is die Skrif en belydenisse tog duidelik, word met stelligheid verklaar.

Ek kan nie help nie; die beeld van “wurg” wil by my net nie wyk nie… Dalk het dit ook te make met die kerk, my “moeder”, wat haarself van lewensasem ontneem?

Dr Gideon van der Watt is die sekretaris vir Vennote in Getuienis, die getuienisbediening van die NG Kerk in die Vrystaat.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top