Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Du Toit (87) van der Merwe en sy vrou, Hilda. Foto verskaf

‘Genade met tien hoofletters’

“Die Woord van die Here is groter as enige mens. As jy dáármee kan besig wees is dit wonderlik.”

Só sê ds Du Toit van der Merwe (87) wat onlangs finaal afgetree het nadat hy ’n groot deel van sy lewe aan Bybelvertaling gewy het.

Oom Du Toit, soos hy bekend staan, is destyds as sendeling by die Sendinginstituut in Wellington op­gelei.

“Ek is deel van die geslag ‘donkies’ wat aan die uitsterf is,” sê hy. Andrew Murray het dié studente dié eretitel gegee. Hulle moes, soos die donkie wat vir Jesus in Jerusalem ingedra het, die evangelie in Afrika indra.

En sedert hy sy studies in 1952 afgehandel het, het hy hom daarop toegespits. Oom Du Toit het bygedra daartoe dat talle minderheidsgroepe in Afrika die evangelie-boodskap in hulle eie taal lees.

Vanjaar het hy ’n laaste keer, “met ’n vergrootglas” op Nkhoma in Malawi gehelp met die Lambya-­Bybelvertaling.

“Die belangstelling is nog daar, maar ongelukkig nie die vermoë nie. Ek kan nie meer die hele dag konsentreer nie, al wil ek. En ek moet nou met ’n ver­grootglas lees!” vertel oom Du Toit vanuit ’n aftree-oord in Centurion.

Oom Du Toit se spore lê wyd oor Afrika.

Na sy studies is hy in 1953 reguit Nigerië toe as sendeling vir die Tiv-stam. “Daar het my Bybelvertaling-werk begin. Die Sending het my ’n ruk na my aankoms aangestel om die Tiv-vertaling van die Nuwe Testament te hersien.”

Daarna is hy in 1964 na Zimbabwe en was daar by die hersiening van die Sjona-Bybel betrokke.

Terwyl hy in Zimbabwe was, het hy besluit om homself verder te kwalifiseer en het ’n honneurs in Linguistiek deur Unisa verwerf.

Sy spore het weer na Suid-Afrika gelei toe hy in 1975 terug is na sy geboorteland om by Die Lewende Bybel se vertaling betrokke te raak. Oom Du Toit vertel dié vertaling moes die Grieks weergee, maar in die maklike leesbare trant van dr Kenneth Taylor se Living Bible.

Hy sê hy was eintlik die “onwaarskynlike vertaler”. Die eerste drie maande was daar sowat vier vertalers – “soos destyds in die staatsdiens gebruik is” – wie se vertalings hy nagegaan het. Maar dit het nie goed gewerk nie en uiteindelik is oom Du Toit gevra om alleen voort te gaan.

Eers ses en ’n half jaar later het hy die vertaling voltooi en in 1982 is Die Lewende Bybel deur CUM-uitgewers uitgegee.

Hierna is oom Du Toit terug na Zimbabwe waar hy met Sjona-literatuur gewerk het. En in 1994 het hy afgetree en na Suid-Afrika teruggekeer.

Die Bybeltekste het bly roep en uiteindelik het hy by die Woord vir die Wêreld, ’n organisasie wat hom toespits om die Bybel vir minderheidsgroepe in hul eie taal beskikbaar te stel, betrokke geraak.

Dié organisasie lei moedertaalsprekers op om self die vertaalwerk te doen en dan hersien ’n Bybelverta­lingskonsultant hulle werk. En dit is hier waar oom Du Toit ’n groot rol gespeel het.

Só het sy pad na verskillende dele van Suidelike en Sentraal-Afrika gelei. Hy sou daarheen vlieg, twee weke daar werk, terugkom, en dié werkswyse dan herhaal.

Daar was drie sessies saam met die Taabwa-span uit die Oos-Kongo. Hier was dit te gevaarlik en daarom het hulle in Zambië bymekaargekom. ’n Enkele besoek aan die Soli- en Ila-spanne ook in Zambië. Twee sessies saam met die Chikunda-span in Zimbabwe en tien sessies saam met die Lambya-span in Nkhoma.

Maar nou, sê oom Du Toit, het hy finaal die tuig neergelê.

“Ek is nou aan die afskaal. Ek het nou totsiens gesê vir die mense by Woord vir die Wêreld. My lewe was genade met tien hoofletters. Waar sou ek nou self by al hierdie dinge kon uitkom? Aan die Here al die eer.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top