Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die span wat van Lekker ’n lekker koffiewinkel maak. Van links is Brian Crause, Jaco van der Westhuizen, Corné Erasmus, Lindie Adam, en Santa van der Westhuizen wat vir Landie Erasmus omhels.

Dit gaan oor die koninkryk van God

Van die NG gemeente Swartkopsrivier tot by die Blouwaterbaai Familiekerk – vir ds Johan van Zyl en sy gemeente is dit ’n reis wat nog lank nie verby is nie, maar waarin daar rigtingwysers is vir die hele NG Kerk. Neels Jackson vertel.


Dit was sowat vyf jaar gelede dat ds Johan van Zyl in die nag wakker geword het en vir die Here gesê het: “Dis klaar met die kerk.”

Vroeër was die NG gemeente Swartkopsrivier ’n groot en sterk gemeente. Toe Johan in 1990 daar begin het, was daar 900 lidmate.

Maar die woongebied, so 10 km oos van Port Elizabeth, wat ontwikkel is vir hoër middelklas witmense, het met die koms van die nuwe Suid-Afrika geleidelik begin verander.

Blouwaterbaai is omring deur swart woonbuurte soos Motherwell en KwaZakhele. Mettertyd het al meer wit mense uit Blouwaterbaai getrek en mense van kleur het ingetrek.

Daarmee saam het die NG gemeente al kleiner geword. Vandaar die dominee se kommer en die naggesprek met God.

Maar die Here het verder gekyk en vir Johan gesê as hy net verder as wit, Afrikaans en NG dink, is daar so baie mense.

Dit is daarna dat hy vir die kerkraad gesê het hulle moet verander of sterf. En toe begin hulle Sondag­aande met ’n Engelse byeenkoms. Dis nie ’n diens nie, sê hy, dis ’n fellowship.

Dit gaan nie daar oor denominasie nie, maar oor die koninkryk van God.

“Die kerk moet ’n plek wees waar gelowiges oor grense kan hande vat,” sê Johan.

kinders
Onder: Lindie Adam (agter) van Lekker, saam met van haar jong klante. Van voor af is Andile Zulu, Darren Blochlinger, Bayanda Zulu en David Blochlinger. Foto’s: Neels Jackson

Daarna het ’n Engelse oom en tannie kom vra dat hulle soggens ook met iets begin. So het die 11:00-fellowship ontstaan. Dis ook nie ’n diens nie, maar ’n geleentheid waar mense hulle lewe met mekaar kan deel.

Om hulle deure vir die gemeenskap oop te maak, sê Johan, het hulle drie dinge gedoen. Hulle het die kansel afgebreek en ’n verhoog gebou.

Verder het hulle die NG uit die gemeente se naam gehaal. Hulle is nou die Blouwaterbaai Familiekerk. In Engels: Bluewater Bay Family Church.

Derdens het hulle besluit om met ’n bediening te begin om die gemeenskap kerk toe te bring.

Daarvoor het die diakens voorgestel moet hulle ’n koffiewinkel by die kerk begin. Dié koffiewinkel se naam is “Lekker” en dit het ener­gie geskep. Dis ’n plek van fellowship en kuier.

“Dis meer kerk as enigiets wat ons nog gedoen het om kerk te wees,” sê Johan.

Hy beklemtoon dat hulle in die verandering niks weggevat het van die Afrikaanse bedie­ning nie. Die Afrikaanse oggend­dienste gaan soos altyd voort. Maar hulle het bygesit, sodat hulle die wyer gemeenskap ook kon bereik.

Die kerk, glo hulle, moet ’n plek wees vir gebrokenes en stukkendes. Dit moenie ’n plek wees van oordeel nie, maar ’n plek waar mense die liefde van Christus ervaar.

Hulle boodskap aan die gemeente is dat hulle nie meer kerk dink nie. Hulle dink koninkryk. Die Here het hulle almal saam geplaas. Hulle moet saam koninkryk wees.

Maar dit gaan verder as dit. “Christene wat hande vat, is die oplossing vir die land,” sê Johan.

Hulle fellowship word nou deur sowat 50 mense bygewoon, sê Johan. Onder hulle is wit en swart, bruin en Indiër. Ook van die Afrikaanse lidmate woon dit by.

Een van die lidmate is Tussi Lujabe.

Sy het een dag by die fellowship haar getuienis gelewer en toe mense se voete gewas.

Vir Johan was dit persoonlik ’n baie intense belewenis: “Toe sy my voete was, was dit asof die Hei­lige Gees sy hand in my insteek en al die oorblywende rassisme uit my uittrek,” vertel hy.

Ja, hy het met die bediening oor grense begin, maar was nog baie gereserveerd, verduidelik hy.

Vir die gemeente is Tussi ’n inspirasie. Johan vertel dat daar in ’n stadium ’n wit boemelaar in die kerk se omgewing gebly het. Hulle het met hom gaan praat, vir hom kos en klere gegee – maar dis Tussi wat hom in haar huis ingeneem het.

groei
Regs bo: Ds Johan van Zyl by ’n broodboom wat voor die kerk geplant is as simbool van groei.

Hy het by haar gebly totdat hulle vir hom werk kon kry en hy weer op sy voete kon kom.

Intussen het die Blouwaterbaai Familiekerk met sy koffiewinkel ’n gemeenskapsentrum begin word. Al die swart kleuterskole hou hulle konserte daar.

Selfs die ANC het voor die verkiesing daar ’n vergadering kom hou – wat Johan met Skriflesing en gebed moes begin en afsluit.

Agterna het hulle baie positief gepraat van die Dutch Reformed Church. Dié naam is nie meer ’n skeld­naam nie. In Blouwaterbaai het dit nuwe bete­ke­nis gekry, sê Johan.

Wat hulle begin doen het – en hulle het nog maar net begin – gaan die uitdaging vir elke gemeente wees, sê Johan. Die hele Oos-Kaap se demografie is aan die skuif.

En die drie heel belangrikste woorde in die hele proses, is: verhoudings, verhoudings, verhoudings.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top