Van die NG gemeente Swartkopsrivier tot by die Blouwaterbaai Familiekerk – vir ds Johan van Zyl en sy gemeente is dit ’n reis wat nog lank nie verby is nie, maar waarin daar rigtingwysers is vir die hele NG Kerk. Neels Jackson vertel.
Dit was sowat vyf jaar gelede dat ds Johan van Zyl in die nag wakker geword het en vir die Here gesê het: “Dis klaar met die kerk.”
Vroeër was die NG gemeente Swartkopsrivier ’n groot en sterk gemeente. Toe Johan in 1990 daar begin het, was daar 900 lidmate.
Maar die woongebied, so 10 km oos van Port Elizabeth, wat ontwikkel is vir hoër middelklas witmense, het met die koms van die nuwe Suid-Afrika geleidelik begin verander.
Blouwaterbaai is omring deur swart woonbuurte soos Motherwell en KwaZakhele. Mettertyd het al meer wit mense uit Blouwaterbaai getrek en mense van kleur het ingetrek.
Daarmee saam het die NG gemeente al kleiner geword. Vandaar die dominee se kommer en die naggesprek met God.
Maar die Here het verder gekyk en vir Johan gesê as hy net verder as wit, Afrikaans en NG dink, is daar so baie mense.
Dit is daarna dat hy vir die kerkraad gesê het hulle moet verander of sterf. En toe begin hulle Sondagaande met ’n Engelse byeenkoms. Dis nie ’n diens nie, sê hy, dis ’n fellowship.
Dit gaan nie daar oor denominasie nie, maar oor die koninkryk van God.
“Die kerk moet ’n plek wees waar gelowiges oor grense kan hande vat,” sê Johan.

Daarna het ’n Engelse oom en tannie kom vra dat hulle soggens ook met iets begin. So het die 11:00-fellowship ontstaan. Dis ook nie ’n diens nie, maar ’n geleentheid waar mense hulle lewe met mekaar kan deel.
Om hulle deure vir die gemeenskap oop te maak, sê Johan, het hulle drie dinge gedoen. Hulle het die kansel afgebreek en ’n verhoog gebou.
Verder het hulle die NG uit die gemeente se naam gehaal. Hulle is nou die Blouwaterbaai Familiekerk. In Engels: Bluewater Bay Family Church.
Derdens het hulle besluit om met ’n bediening te begin om die gemeenskap kerk toe te bring.
Daarvoor het die diakens voorgestel moet hulle ’n koffiewinkel by die kerk begin. Dié koffiewinkel se naam is “Lekker” en dit het energie geskep. Dis ’n plek van fellowship en kuier.
“Dis meer kerk as enigiets wat ons nog gedoen het om kerk te wees,” sê Johan.
Hy beklemtoon dat hulle in die verandering niks weggevat het van die Afrikaanse bediening nie. Die Afrikaanse oggenddienste gaan soos altyd voort. Maar hulle het bygesit, sodat hulle die wyer gemeenskap ook kon bereik.
Die kerk, glo hulle, moet ’n plek wees vir gebrokenes en stukkendes. Dit moenie ’n plek wees van oordeel nie, maar ’n plek waar mense die liefde van Christus ervaar.
Hulle boodskap aan die gemeente is dat hulle nie meer kerk dink nie. Hulle dink koninkryk. Die Here het hulle almal saam geplaas. Hulle moet saam koninkryk wees.
Maar dit gaan verder as dit. “Christene wat hande vat, is die oplossing vir die land,” sê Johan.
Hulle fellowship word nou deur sowat 50 mense bygewoon, sê Johan. Onder hulle is wit en swart, bruin en Indiër. Ook van die Afrikaanse lidmate woon dit by.
Een van die lidmate is Tussi Lujabe.
Sy het een dag by die fellowship haar getuienis gelewer en toe mense se voete gewas.
Vir Johan was dit persoonlik ’n baie intense belewenis: “Toe sy my voete was, was dit asof die Heilige Gees sy hand in my insteek en al die oorblywende rassisme uit my uittrek,” vertel hy.
Ja, hy het met die bediening oor grense begin, maar was nog baie gereserveerd, verduidelik hy.
Vir die gemeente is Tussi ’n inspirasie. Johan vertel dat daar in ’n stadium ’n wit boemelaar in die kerk se omgewing gebly het. Hulle het met hom gaan praat, vir hom kos en klere gegee – maar dis Tussi wat hom in haar huis ingeneem het.

Hy het by haar gebly totdat hulle vir hom werk kon kry en hy weer op sy voete kon kom.
Intussen het die Blouwaterbaai Familiekerk met sy koffiewinkel ’n gemeenskapsentrum begin word. Al die swart kleuterskole hou hulle konserte daar.
Selfs die ANC het voor die verkiesing daar ’n vergadering kom hou – wat Johan met Skriflesing en gebed moes begin en afsluit.
Agterna het hulle baie positief gepraat van die Dutch Reformed Church. Dié naam is nie meer ’n skeldnaam nie. In Blouwaterbaai het dit nuwe betekenis gekry, sê Johan.
Wat hulle begin doen het – en hulle het nog maar net begin – gaan die uitdaging vir elke gemeente wees, sê Johan. Die hele Oos-Kaap se demografie is aan die skuif.
En die drie heel belangrikste woorde in die hele proses, is: verhoudings, verhoudings, verhoudings.
