Daar is dominees met haglike ervarings van sogenaamde prestasiebeoordelings. Baie sien dit as ’n las, ’n kruis, selfs ’n vernedering. Hoofsaaklik omdat dit dikwels koud en klinies aangepak word. ’n “Evaluering”, nee ’n ervaring by Communitas se Sentrum vir Predikantebegeleiding is egter iets om na uit te sien. Annalise Wiid het gaan uitvind.
Ek ontmoet vir ds Theunis Botha by die aarbeiplaas buite Stellenbosch. Oor iets so lewegewend soos die Sentrum vir Predikantebegeleiding gesels ’n mens op ’n mooi plek, oor goeie koffie.
Theunis, voorsitter van die sinodale kommissie vir predikantebegeleiding, is ’n dominee by Stellenbosch-Welgelegen. Hy en dr Pierre Goosen, PSD vir Predikantebegeleiding, administreer die Sentrum. Maar meer as dit: Hulle koester en voed gelukkige dominees met betekenisvolle bedienings.
“Hierdie is ’n juweel vir ons kerk,” is Theunis se eerste woorde. “Ons evalueer nie; ons neem waar – in ’n grondige, deursigtige proses. Ons beoordeel nie, ons begelei – met gesamentlike insig en oorleg.”
Hy verduidelik: “Dominees kry redelik gereeld komplimente of klagtes. Iemand bel ’n dominee miskien Sondag na die diens en sê dankie vir die goeie preek. Of tree die dominee aan oor iets wat pla; of as hulle meen die dominee maak droog.
Maar gewoonlik gaan dit kwalik dieper as die oppervlak. Niemand gaan sit ooit langs ’n dominee (in ’n oop, volwasse gesprek met baie liefde), en gee eerlike terugvoer oor die dominee se bediening en menswees nie.”
Die Sentrum vir Predikantebegeleiding doen wat ander nie doen nie. Die Engelse woord “excel” spring onwillekeurig in my gedagtes op. Die Sentrum verander oppervlakkige spreadsheet-evaluering-ervarings (soos in Microsoft Excel) – van óf sterretjies óf swart kolle – in werklike, vrugbare, diepgaande excel-ervarings – van inspirasie tot uitmuntendheid.
Twee betekenisse van die woord excel. Twee heeltemal verskillende ervarings.
Daar is nog twee belangrike woorde: Saam en spieël. Dié twee woorde som ’n begeleiding-ervaring by die Sentrum goed op.
Dit werk so: Dominees gaan vir drie dae Volmoed toe, ’n retreat-toevlug buite Hermanus. Eenkant, vry van steurnisse. Daar kry ’n dominee twee opgeleide begeleiers en hulle gaan saam deur ’n baie interessante, weldeurdagte proses. As kollegas. Hulle staan op gelyke voet. Daar is geen sprake van ’n “van-bo-af-beoordeling” nie. Net van saam soek na toenemende insig.
Die proses (wat al sedert 2009 fyn bedink, beplan en ontwerp word) behels vrae, gesprek en rollespel. Die dinamika daarvan word deur die loop van die drie dae ’n spieël wat vir die dominee wys: So is ek; so doen ek; so ervaar mense my – my gemeente, my kerkraad, my kollegas.
In deurlopende eerlike terugvoer-gesprekke met die twee begeleiers, word spesifiek gefokus op nege bekwaamhede, wat belangrike boustene is in enige dominee se bediening, naamlik: geestelike volwassenheid; geloofsonderskeiding; emosionele volwassenheid; leierskap; afrigting en mentorskap; effektiewe kommunikasie; denkvermoë; besluitneming; eienaarskap en verantwoordbaarheid.
Al bogenoemde en nog meer funksioneer saam en interafhanklik in ’n dominee as bedienaar van die Woord. “Dit is presies wat dominees doen; hulle is VDM’s – Verbi divini minister,” verduidelik Theunis.
“Kelners wat die Woord en versoening vir mense bring. Maar in die proses word hulle heen en weer geslinger. Soms gaan ’n dominee, deur die loop van een enkele dag, van ’n sterfbed na ’n geboorte na ’n stukkende huwelik na ’n finansiële kommissievergadering.
“En almal verwag dat die arme mens deurgaans ’n tevrede, toegewyde, in beheer prediker moet wees. Dikwels raak die las en onhaalbare verwagtings net te groot. En dominees begin bloot funksioneer. Auto pilot kry hulle deur die dag. Sommige brand uit. Word futloos. Hulle vuur finaal geblus. Die sentrum wil dit verhoed, dit help verander …”
Hulle “spieël” die dominee se menswees en bediening op drie belangrike vlakke. Eerstens word daar gewoon gevra: Wat doen die dominee? En hoe doen die dominee dit?
Tweedens: Hoe beïnvloed die dominee mense met dit wat hy of sy doen? Wat gebeur in die dominee se verhoudinge met mense? Wat is die gemeente se verwagtinge? En wat is die dominee se visie van homself of van haar roeping? En hoe en waar kom dié twee bymekaar? Kry die dominee dit werklik reg om mense se lewe aan te raak deur sy of haar bediening?
En dan derdens: Slaag die dominee daarin om die gemeente uit te lig, te inspireer en te transformeer tot iets groter as voorheen? Is daar ’n helder visie vir groei? En kry mense deur die dominee se bediening ’n groter prentjie van God en sy Gees en van gemeenskap?
Ná so drie dae voor die spieël voel ’n deelnemende dominee nie platgeslaan deur ’n onrealistiese, onvriendelike excel sheet van moets en moenies nie. Eerder aangevuur en lus om te excel in die bediening waartoe hy of sy geroepe voel en verbind is.
Lees meer hieroor in Kerkbode van 2 Desember.
Vir meer inligting, kontak Adrienne Bester by bestera@sun.ac.za of 021 808 3382.
