Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

NG Kerk bekommerd oor konsep-wetgewing

Die implementering van die voorgestelde wetgewing met betrekking tot haatspraak en haatmisdaad “druis in teen ander regte wat deur die Grondwet beskerm word soos die vryheid van spraak en die vryheid van godsdiens.”

Só sê dr Gustav Claassen, Algemene Sekretaris van die NG Kerk, in ‘n brief wat aan alle predikante in die kerk gestuur is. “Die wetsontwerp in sy huidige vorm is gebrekkig en neem nie grondwetlike regte behoorlik in ag nie.”

Dié wetsontwerp het ontstaan in reaksie op verskeie gebeurtenisse waar rassistiese uitsprake in Suid-Afrika gemaak is, asook misdade wat deur rassehaat gemotiveer is.

Die brief handel verder oor ‘n verslag van die CRL-kommissie. Die aanbevelings wat in die verslag gemaak word, word as ‘n “ernstige bedreiging vir die vryheid van godsdiens en die vryheid van assosiasie” beskryf in Claassen se brief aan predikante.

Die volledige brief lui:


 
VOORGESTELDE WETGEWING BIED GROOT UITDAGINGS VIR KERKE

Twee prosesse rondom konsep-wetgewing verg kerke en ander geloofsgroepe se dringende aandag en reaksie.

1. COMBATING OF HATE CRIMES AND HATE SPEECH BILL.

Agtergrond: Minister Michael Masutha het op 24 Oktober 2016 beoogde wetgewing rondom “haatmisdaad” en- “haatspraak” aangekondig. Die doel van die beoogde wetgewing is volgens die minister: “The recent racist utterances and many other incidents of vicious crimes perpetrated under the influence of racial hate, despite our efforts over the past two decades to build our new nation on these values, has necessitated further measures to uproot this scourge which is reminiscent of our unenviable apartheid past”. Die konsepwetsontwerp se doel is om uitvoering te gee aan die regering se verpligtinge, in terme van die Grondwet, naamlik om gelyke regte te reguleer en diskriminasie te voorkom deur oortredings soos “haatmisdaad” en “haatspraak” te verbied.

Die nuwe beoogde wet strek egter veel verder as wat in die Grondwet omskryf word. Enige kommunikasie, in sy wydste omvang, wat ’n bepaalde persoon of groep laat aanstoot neem, kan volgens die wetgewing inkriminerend wees. Terwyl kerke waardering het vir die aanspreek van “haatmisdaad” en “haatspraak”, deel die kerke ‘n diep bekommernis oor die breë omskrywing daarvan in die voorgestelde wetgewing. Die breë omskrywing plaas bepaalde geloofsuitsprake deur die kerk of individue in die spervuur. Die wetsontwerp, indien goedgekeur, kan ’n eerste oortreder drie jaar in die tronk laat beland.

Dit lyk of huidige wette teen “haatspraak” in Suid-Afrika voldoende is en bykomende wetgewing in hierdie verband oormatig sal wees. Die implementering van hierdie voorgestelde wetgewing druis in teen ander regte wat deur die Grondwet beskerm word soos die vryheid van spraak en die vryheid van godsdiens. Die wetsontwerp in sy huidige vorm is gebrekkig en neem nie grondwetlike regte behoorlik in ag nie.

Meer inligting oor die wetgewing kan hier verkry word deur die skakel “Hate Speech Bill” te volg.

Die aanvanklike teikendatum vir reaksie was 1 Desember 2016, maar uitstel is verleen tot 31 Januarie 2017.

2. CRL RIGHTS COMMISSION’S REPORT ON THE ‘COMMERCIALISATION’ OF RELIGION & ABUSE OF PEOPLE’S BELIEF SYSTEMS

Agtergrond: Die CRL is ’n artikel 9-instelling, geskep in terme van Hoofstuk 9 van die Grondwet om demokrasie te beskerm en te bevorder, veral in terme van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte. (Ander Hoofstuk 9-instellings sluit die Menseregtekommissie, Kommissie vir Geslagsgelykheid en Openbare Beskermer in.)

Teen die einde van 2015 ontvang die CRL klagtes met betrekking tot ‘n pastoor wat mense laat petrol drink en rotte eet. Vandag haal die Doom-profeet weer die voorblaaie. In plaas daarvan om net die betrokke klagtes te ondersoek, loods die kommissie ’n volskaalse ondersoek na die “kommersialisering” van godsdiens en misbruik van mense se geloof.

Die NG Kerk en 85 ander geloofsgroeperings word versoek om voor die kommissie te verskyn en bewyse te lewer van onder andere finansiële bestuur, opleiding en strukture. Die kommissie is baie beïndruk met die NG Kerk se voorlegging maar minder met van sekere ander groepe.

In Oktober 2016 maak die CRL hul bevindinge en aanbevelings bekend. ‘n Voorlopige verslag word vrygestel en godsdienstige instellings word drie weke gegee om kommentaar te lewer (tot Vrydag 18 November 2016). In teenstelling met in die media berig is, was daar kommer onder godsdiensleiers by die vergadering in Oktober 2016.

Wat voorgestel word, is ‘n ernstige bedreiging vir die vryheid van godsdiens en die vryheid van assosiasie. In baie opsigte druis dit in teen dit waartoe geloofsgemeenskappe reeds ingestem het met die ondertekening van die Suid-Afrikaanse Handves van Godsdiensregte en -vryhede in Oktober 2010 deur die hoofstroomkerke en godsdienstige groepe.

Vanuit ’n grondwetlike oogpunt kan vryheid nie beperk word vir enige rede nie. Daar moet ’n grondige rede wees om godsdiensvryheid te beperk, nie net van diegene wat hulle skuldig maak aan misbruik nie, maar ook die 99% wat nie hul vryheid misbruik nie. Selfs in die geval van ’n oortreding vereis die Grondwet dat minder beperkende wyses soos die handhawing van bestaande wette, verkies moet word om oortredings te hanteer.

Daar kan meer oor die verslag gelees word deur hierdie skakel te volg. Die sperdatum vir reaksie is uitgestel tot 28 Februarie 2017.

In die geval van die voorgestelde wetgewing rondom “haatspraak” en “haatmisdaad” en reaksie op die CRL-verslag het kerke probleme ondervind in terme van konsultasie en reaksietyd. In albei gevalle was daar ’n gebrekkige proses rondom behoorlike konsultasie, gegewe die direkte en breë impak op godsdienstige gemeenskappe. Die tyd wat toegestaan is vir reaksie was ook in albei gevalle te kort.

Twee dokumente, wat riglyne bied, word voorberei as reaksie op bogenoemde prosesse. Dit sal vroegtydig beskikbaar gestel word aan gemeentes en individue wat wil reageer. Hopelik sal soveel moontlik gemeentes reageer. Hierdie voorlopige wetgewing en verslag bied groot uitdagings indien dit sou lei tot wetgewing.

Groete
Gustav Claassen

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top