my God, waar is U in so ’n uur, in so ’n uur,
ons roep al sagter en sagter …
Die jong man wat bostaande woorde gedig het, Stefan de Klerk (22), is ’n plaaskind uit die Mariental-omgewing. Tweedejaar teologiestudent op Stellenbosch. Rugbyspeler. Vir Namibië se o21-span uitgedraf. Besig met sy jaareindeksamen ten tyde van ons gesprek.
Hy skryf en slaag tans ’n ander eksamen ook: In die praktiese teologie van menswees.
Sy oupa was ’n NG dominee. Wonderlike man, vir wie hulle familie groot waardering het. “Ek dink ek was 10 toe ek die eerste keer gesê het ek wil ook eendag ’n dominee word,” vertel Stefan. Ten spyte daarvan het hy egter met BSc begin. Maar het vroeg in sy eerste jaar besef nee, hy is “geroep” en, dapper, van kursus verander.
Dapper. Dit was ’n moeilike besluit. Stefan is gay. Dit het ingrypende implikasies as ’n mens wil dominee wees. En jy verander nie sommer van oriëntasie soos jy van kursus verwissel nie. Dit is vanuit hierdie worsteling dat hy die gedig geskryf het wat hierbo aangehaal word.
In so ’n uur was die 2015-Sinode besluit vir hom ’n “ongelooflike verligting”. Daar is ruimte geskep om eerlik homself te wees. Sy beste vriende (hetero-teologiestudente) het gesê: “Kom ons bid. Stefan, hierdie is ’n goeie geleentheid. Jou stem kan ’n verskil maak.”
Sy stem praat toe by die buitengewone Algemene Sinode van 2016. Hy het sy medestudente se beskrywingspunt toegelig. En sy pa se hart-brief van onvoorwaardelike liefde voorgelees. Blootgestel. Agterna het vier ooms met rooigehuilde oë met hom kom gesels. Maar sy hartseer ervaring is: Die meerderheid kon nie luister nie; kon hom nie hoor nie.
Hy kies sy woorde met oorleg. Haal sy dominee-oupa se wysheid aan: “Pasop wat jy van iemand anders sê. Onthou altyd: Dit is ’n kind van God van wie jy praat.”
Sy dominee, Marié Britz, van Stellenbosch Moederkerk, was ook by die buitengewone Algemene Sinode. Ook hartseer. Die Sondag daarna preek sy oor die sinode-teks, Esegiël 47.
En sy nooi vir Stefan om saam met haar aan die nagmaaltafel te sit. Ander lidmate ook. Sy ken nie hulle oriëntasie nie. Dit maak ook nie saak nie. Sy praat met emosie in haar stem as sy dit vertel – wetend dat ons mekaar se hart in ons hand het met hierdie saak.
“Ek het dit vir myself gedoen,” sê Marié. “Die sinode – die hele week van ‘hulle’ sit bo en ‘ons’ sit onder – was vir my ’n pynlike ervaring. Die kerk vir wie ek lief is, bring afstand tussen die mense vir wie ek lief is. Ek het gedink aan al ons lidmate wat seer en swaar kry. En ek het net geweet: Ek het nodig om mense saam met my aan die tafel te hê wat my help glo.”
“Dit was vir my nodig, sodat ek die evangelie met integriteit kan bedien. En ek het gehoop dat die tuiskom in ’n oop gemeente hulle seer ook sal help versag.”
Dit het. “Die nagmaal was die kersie,” sê Stefan. “Die preek was die koek: Oor mag wat broos is. En oor strome opofferende, helende liefde. Ek het nog nooit so ingesluit gevoel as met dié nagmaaldiens nie.”
