Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Gemeentes distansieer hulle van besluit

Al meer NG gemeentes distansieer hulle van die buitengewone Algemene Sinode se besluit wat geen ruimte laat vir selfdegeslagverhoudinge nie. Daarmee sê sulke gemeentes dat hulle gay mense met hulle seksualiteit en hulle verhoudings volledig aanvaar en ’n veilige ruimte vir hulle wil wees.

Die kerkraad van Rietfontein-Noord in Pretoria het onder meer besluit hulle “verwerp die Algemene Sinode se definisie van die huwelik en die gesin, wat nie uitdrukking gee aan die veelvoudigheid wat in die Bybel voorkom nie, en ook die moontlikheid van selfdegeslag-verbintenisse en ’n verskeidenheid ander gestaltes van gesinne uitsluit”.

Stellenbosch-Welgelegen se kerkraad aanvaar mense se homo- of heteroseksuele oriëntasie as ’n gawe van God. Hulle meen die kerk se taak is om mense te help om hulle Godgegewe seksualiteit binne die kontoere van liefde en trou uit te leef.

Hulle wys daarop dat nie Abraham, die vader van die gelowiges, of die aartsvader Jakob, of geskeide mense wat hertrou aan die Algemene Sinode se vereis­tes vir die huwelik voldoen nie.

Ander gemeentes wat reeds standpunt ingeneem het teen die 2016-besluite ten gunste van die 2015-besluite is Andrew Murray en die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Johannesburg, Skuilkrans in Pretoria, die Groote Kerk en Pinelands, Wynberg en Tableview in Kaapstad en Stellenbosch-Moedergemeente.

Verskeie ander gemeentes sal na verwagting by dié groep aansluit sodra hulle kerkrade vergader het om amptelik standpunt teen 2016 se besluite in te neem.

Intussen het ds Johan Conradie van die gemeente Townsview in Johannesburg ’n facebookblad begin met die naam Liefde is Liefde is Liefde wat probeer om ’n lys by te hou van alle inklusiewe gemeentes. Hulle werk ook aan ’n be­swaar­skrif teen die 2016-besluit.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top