Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vrystaat stig ’n seminarium langs die fakulteit

Die teologiese opleiding van die NG Kerkfamilie in die Vrystaat kry begin 2017 ’n Teologiese Seminarium. Dit sal parallel met die teologiese opleiding aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit Vrystaat funksioneer.

Die stigting van die seminarium is na onderhandeling met en met instemming van die Fakulteit Teologie goedgekeur. Dit volg na meer as ’n jaar van besinning en beplanning deur die Kuratorium van die NG Kerk in die Vrystaat.

Die doel van die seminarium is om die aanvullende kerklike opleiding, die kampe en retreats, en die sielkundige sessies wat deur die kuratorium van studente vereis word, onder een sambreel te laat ressorteer. Die kuratorium beoog om aan die begin van 2017 ’n bestuurder vir die seminarium aan te stel. Voorlopig sal dit ’n deelpos wees.

Die kuratorium het ook met goedkeuring van die universiteit en die Fakulteit Teologie besluit dat daar ‘n kerklike dosent in Gereformeerde Teologie aangestel sal word in die Departement Historiese- en Konstruktiewe Teologie (voorheen bekend as die Departemente Sistematiese Teologie en Ekklesiologie). Onderhoude vir die vul van die pos is reeds gevoer en die suksesvolle kandidaat sal binnekort aangestel word.

Intussen het die kuratorium leraars, gemeentes en ander belanghebbendes uitgenooi om op verantwoordelike wyse deel te neem aan ’n gesprek oor die teologiese opleiding van die NG Kerk.

Dit kom te midde van verskillende persepsies oor die opleiding en kritiese standpunte wat soms in kerklike debatte en/of die media hieroor gestel word. Die kuratorium is bereid om hieroor met alle belanghebbendes te praat, maar is ook bekommerd daaroor dat persepsies soms aanleiding gee tot ongegronde aantygings of veralgemenings.         

Die kuratorium sê hy is oortuig dat die verhouding tussen die NG Kerk in die Vrystaat en die Teologiese Fakulteit aan die universiteit een van wedersydse respek en vertroue is, sodat sodanige persepsies of standpunte openhartig en sonder verdagmaking bespreek kan word.

Die dagbestuur van die kuratorium is versoek om gespreksgeleenthede te reël tussen ringe of streke en die NG dosente van die Fakulteit Teologie. Dié gesprekke is met die oog op die ontwikkeling van groter begrip vir uitdagings van teologiese opleiding aan ekumeniese fakulteite, sowel as uitdagings en persepsies in die kerk.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top