Die NG Kerk moet hom gereed maak vir regstappe oor die buitengewone Algemene Sinode se besluite oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.
Die groep van 11 lidmate wat vroeër regsmenings aan die Algemene Sinode se kantoor gestuur het, het nou kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ʼn klomp inligting aangevra wat hulle kan help om met regstappe te begin.
Die inligting wat aangevra word, sluit in kennisgewings van verskeie vergaderings, die bywoningsregisters, agendas, rekords van besluite en notules, materiaal wat voor dié vergaderings gedien het en transkripsies van die rekords van verrigtinge as daar klankopnames daarvan bestaan.
Dit word gevra ten opsigte van vergaderings van die Algemene Sinodale Moderamen (ASM), die Moderatuur, die Algemene Taakspan Regte (ATR), die liggame of taakspanne wat appèlle en ander besware gehanteer het en van die buitengewone Algemene Sinode self.
Daar word ook redes gevra vir besluite met betrekking tot selfdegslagverhoudings wat deur dié vergaderings geneem is.
Luidens die versoek word die rekords “onder meer aangevra in die openbare belang, ter wille daarvan dat geregtigheid geskied en ter handhawing van menswaardigheid (tydens die NG Kerk se ‘seisoen van menswaardigheid’) en gelykheid”.
In die aansoek sê die aansoekers hulle wil “die mate van enige potensiële skending” van ‘n verskeidenheid regte bepaal. Dit sluit in die reg tot menswaardigheid, gelykheid, vryheid van uitdrukking, privaatheid, vryheid van assosiasie, vryheid van godsdiens, geloof en opinie, toegang tot inligting en regverdige administratiewe aksie.
In vorige skrywes aan die Algemene Sinode se kantoor het die 11 by twee geleenthede regsadvies van senior advokate aangeheg wat gemeen het die hele appèlproses is kragtens die NG Kerk se kerkorde ongeldig. Daarby het ʼn regsadvies wat dr André Bartlett en dr Carin Van Schalkwyk aan die ASM voorgehou het, dieselfde gesê.
Dit ATR het ook vroeër regsadvies ingewin en dit aan die ASM voorgelê wat die appèlproses as ʼn nulliteit bestempel het. In die week voor die buitengewone Algemene Sinode is daar weer regsadvies ingewin wat ook gesê het die appèlproses is ongeldig.
Nietemin het die Algemene Taakspan Regte die appèlproses ondersteun en is dit as geldig aan die buitengewone Algemene Sinode voorgehou.
Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, het by navraag gesê die versoek is na die Algemene Taakspan Regte verwys. Prof Johan van der Merwe, voorsitter van die ATR, het gesê hulle sal in Januarie vergader om die versoek te hanteer.
Die notule van die buitengewone Algemene Sinode, wat deel van die inligting is wat aangevra word, moet deur die ASM goedgekeur word, wat van 27 Februarie tot 1 Maart vergader.
Die elftal wat die aansoek bring, is:
- Dr Frits Gaum (gewese redakteur van Kerkbode)
- Prop Laurie Gaum (programbestuurder aan die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit)
- Prof Hendrik Bosman (waarnemende dekaan van Teologie aan die Universiteit Stellenbosch)
- Dr Murray Coetzee (argivaris van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie)
- Dr Chris Jones (senior projekkoördineerder aan die Fakulteit Teologie in Stellenbosch)
- Prop Judith Kotzé (direkteur van Inclusive an Affirming Ministries)
- Dr Nadia Marais (lektor aan die Fakulteit Teologie in Stellenbosch)
- Ds Pieter Oberholzer (finansiële direkteur van Inclusive and Affirming Ministries)
- Prop Hennie Pienaar (kliniese pastorale sielkundige)
- Me Lulani Vermeulen (Vrystaatse koördineerder van die Good Work Foundation)
- Adv Leon Wessels (direkteur van die Sentrum vir Menseregte aan die Universiteit Vrystaat)
