Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Groep, onder wie werknemers van die Christelike Lektuurfonds, neem deel aan die vasvra oor interessante feite by Bybel-Media. Foto’s: Hanno Coetzee

Bybel-Media sê dankie vir sy medewerkers

Bybel-Media, die NG Kerk se publikasiehuis, het onlangs op ʼn unieke manier dankie gesê vir ʼn verskeidenheid mense wat betrokke is by sy werk – en terselfdertyd sy nuwe logo bekend gestel.

Op 25 November is diensverskaffers, medewerkers, donateurs en ander wat op ʼn manier betrokke is by Bybel-Media, na die Ferguson-gebou in Wellington genooi. Besoekers is nie net met die gebruiklike toesprake en eetgoed getrakteer nie, maar is op ʼn interaktiewe manier in groepe aan die verskillende afdelings by Bybel-Media blootgestel.

Bybel-Media se nuwe logo.
Bybel-Media se nuwe logo.

By die fondswerwing-afdeling is poskaarte met dankie-boodskappe aan donateurs geskryf, Kerskaartjies is by die gevangene-bediening ingekleur, by finansies het ʼn vasvra oor Bybel-Media gewag en in Mema-Media se studio was gaste die akteurs in ʼn video-opname spesifiek aan donateurs gerig. Die verpakkingspan het vir elke groep ʼn spesiale Kerslied gesing.

“Nog nooit het ons by Bybel-Media so ʼn dag gehad waar ons onsself so aan die publiek blootgestel het nie. Ons en ons gaste het dit baie geniet,” sê dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof, oor die unieke geleentheid.

René Badenhorst, ’n vryskut-LiGskrywer, leer meer oor die verpakkingsafdeling. Regs is Sean Fortuin van dié departement.
René Badenhorst, ’n vryskut-LiGskrywer, leer meer oor die verpakkingsafdeling. Regs is Sean Fortuin van dié departement.

“Dit was ʼn kreatiewe manier om gaste interaktief aan al die doen en late van Bybel-Media bloot te stel. Dit het gevoel of jy as gas bydra en nie net ontvang nie,” sê Jacobie Visser, ʼn gas by die geleentheid en vryskutskrywer vir Kerkbode.

Dr Frederick Marais, assessor van die NG Kerk in Wes-Kaapland sê: “Dit was ’n baie aangename en leersame dag waarin ek baie geleer het oor die diversiteit van bedieninge wat deel vorm van Bybel-Media. Ek is beïndruk met die kwaliteit mense in Bybel-Media en veral die kreatiwiteit wat uit die hele funksie gestraal het. Hulle nuwe logo is ook baie treffend.”

Oor die waarom van Bybel-Media se splinternuwe logo sê Fourie: “Ons het grootliks twee redes hiervoor gehad. Die eerste is dat die ou logo nie baie goed op die rugkant van ʼn boek gewerk het nie. Die ander is dat die ou logo ook nie goed in ʼn elektroniese omgewing gewerk het nie. En die kolletjie, waaroor baie mense uitvra, was bloot net omdat dit so funky lyk!”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top