Dr Carel Antonissen het ‘n lang pad met gay lidmate van die kerk en hulle familie gestap. By die lees van die buitengewone Algemene Sinode se besluite, het hy aan hierdie mense teruggedink.
By die lees van die jongste besluit van die NG Kerk se spesiale Algemene Sinode om verlede jaar se besluite oor “gay” lidmate ongeldig te laat verklaar, het ‘n paar herinneringe en vrae by my opgekom.
My eerste herinnering was aan ‘n ma. Sy was in die laat negentigerjare inwonende hoof van die dameskoshuis Lydia op die kampus van die Universiteit Stellenbosch.
Mariaan het ‘n “gay” dogter en het, soos baie ouers wat bekommerd is oor wat die openbare opinie aan hulle “gay” kinders kan doen, destyds geen ophef daarvan gemaak nie. Totdat ‘n charismatiese groep een dag op kampus met ongelooflike venyn en misplaaste selfvertroue haar dogter, en almal wat soos sy is, tot die spreekwoordelike “hel” verdoem het. En Mariaan vir die eerste maal met trots in ‘n aangrypende brief aan die studentekoerant Die Matie opgestaan het vir haar dogter. Ook met ‘n skerp afkeur van die totale onbegrip en arrogante sekerheid waarmee ‘n naïewe en charismaties-gedrewe jong student, haar dogter veroordeel het.
Ek wonder vandag waar Mariaan is, of sy nog leef en hoe dié besluit van haar kerk haar vandag raak?
Ek dink vandag aan Leon en Amanda de Stadler wat destyds deel was van ‘n ouer-ondersteuningsgroep wat gereeld by my huis in Merrimanlaan op Stellenbosch vergader het. Hulle gay dogter was in dié tyd op die punt om ‘n nuwe werk in Johannesburg te aanvaar. Hulle bekommernis was hoe sy sou aanpas en belangriker nog: of sy goeie vriende en ‘n sinvolle ondersteuningsgroep in dié groot, vreemde stad sou vind?
“Dit was tog logies dat sy as ‘n gelowige hierdie ondersteuning by ‘n kerklike gemeenskap moes kry,” het hulle destyds aan my gesê. “Maar die verskriklike is dat ons skielik besef het: dit is allermins vanselfsprekend! Dit is trouens meer moontlik dat sy daar ‘n soort vyandigheid en verwerping kan ervaar wat haar geloof sou knou.”
Ek wonder vandag as ek aan Elizabeth en haar ouers dink, hoe oop en ontvanklik die deursnee NG gemeente, ondanks wonderlike beloftes, régtig vir “gay” lidmate is? En watter gevare dit vir “gay” mense se geloof inhou as dit, soos die besluit tans staan, aan kerkrade oorgelaat word om sélf hulle beleid en houding ten opsigte van “gay” lidmate te bepaal?
Ek dink vandag aan Geoff en Aileen Stenekamp, albei deel van hierdie ouer-ondersteuningsgroep, wat destyds, toe die “gay”-kwessie by die Algemene Sinode van 2007 op ‘n spits gedryf is, nie gehuiwer het om met hulle pienk T-hemde daar op te daag en trots aan te kondig dat hulle die ouers van ‘n “gay” kind is nie.
Hulle sou later, na jare se eerlike soeke, wroeging en navorsing ‘n boekie uitbring om ander ouers op dié pad te bemoedig. Hulle ook te help om trots te wees op hierdie spesiale kinders van hulle. Vir die Stenekamps, wat hulle liefde, respek en geduld vir die NG Kerk nooit verloor en nooit sinies geraak het nie, moet hierdie besluit ‘n gevoelige terugslag, indien nie ‘n direkte klap nie, in die gesig wees.
Miskien is dit die hartseerste van hierdie besluit: hoe dit weerlose en goeie mense, ja, getroue lidmate, steeds kan bly kwets en selfs belaglik laat voel.
Ek dink vandag aan die talle “gay” studente wat oor ‘n periode van 10 jaar elke Maandagaand by my huis as studenteleraar op die kampus van Stellenbosch vergader het – soms tot 25 bymekaar – om mekaar te ontmoet en te ondersteun. Dikwels omdat baie van hulle deur hulle eie ouers verwerp is en hulle geen ander huis of heenkome gehad het nie. Vir my persoonlik was dit een van die meer hartseer, maar ook verrykende ervaringe van my bediening.
Tog, so vermoed ek vandag, het baie van hierdie jongmense lankal reeds die kerk die rug toegekeer, gewoon omdat hulle nie langer daar tuis of aanvaar voel nie. Ook omdat ‘n kerk wat na amper 20 jaar sukkel om sy arms volledig vir “gay” mense oop te maak, vir hulle irrelevant geword het. Ek wonder vandag hoeveel NG kerkmense en dominees dit besef en of dit hulle hoegenaamd pla?
Ek dink vandag ook aan baie jongmense wat hulle geloof nog ernstig neem en met die verwagting leef dat hulle tóg eendag volledig, ook met hulle “partners” daar kan tuiskom. In dié verband kom die beeld van ‘n jong mediese student in sy vyfde jaar vandag weer by my op. Hy was destyds ‘n jeugouderling by die omstrede Shofar Kerk waar hy tot bekering gekom het. Hy het my kom sien omdat dieselfde kerk wat hom sogenaamd “gered” het hom ook in die grootse Godsvertwyfeling denkbaar gedompel het.
“Want toe ek uiteindelik my ware identiteit in alle eerlikheid beken het, is ek eers deur ‘n program gesit om my van my sogenaamde ‘skewe’ natuur te bevry. Soos baie ander kerke hou hulle nog vas aan die uitgediende beskouing dat ek sélf daarvoor gekies het. En toe die behandeling nie gehelp het nie, is ek uiteindelik uit die kerk verban en sit ek nou met die vraag: ‘Wie is hierdie God wat my eers aangeneem en nou verwerp het?’”
‘n Laaste herinnering wat vandag by my opkom is dié van ‘n openbare debat tussen proff Willie Jonker, Frederick Van Zyl Slabbert en Johan Degenaar gedurende my studentejare. Dit het gegaan oor die vraag of die NG Kerk, wat destyds apartheid goed gepraat het, nog enigsins relevant is.
Soos te verwagte was Johan Degenaar en Van Zyl Slabbert as bekende teenstanders van die beleid, uiters krities op die NG Kerk wat toe nog verbete sy omstrede ideologiese posisie verdedig het. Hierop het Jonker die aand ‘n verrassende antwoord gegee, dit is dat die Nuwe Testamentiese Kerk voor die aangesig van sy God eintlik nog veel slegter is as wat sy kritici van hom maak. “Luister maar,” so het Jonker aangevoer, “hoe praat Paulus oor die skynheilige gelowiges in Korinte: as onsedelik, geldgierig, afgodsdienaars, kwaadpraters, dronkaards, bedrieërs.” (1 Kor 5:11).
” En tog,” só het Jonker bygevoeg, “Die kerk, hoe sleg hy ook al is en vertoon, het ‘n geheim. En dié geheim is dat die kerk van Christus ook weet van genade, van liefde, van vergifnis en van skuldbelydenis. ”
Ek kon nie anders nie: die herinnering het die vraag by my laat opkom of ons as lidmate en leiers, en dan met name hulle wat met soveel sekerheid vasklou aan húlle soort waarheid, meesal gebaseer op vrees en ‘n kontekslose interpretasie van die Bybel, dié geheim nog hoegenaamd ken?
Of is die huidige besluit geneem in dieselfde gees wat vandag by soveel politieke leiers wêreldwyd merkbaar is – ‘n gees van hovaardigheid, onverskilligheid, arrogansie en gewoon, dom-astrante dwaasheid? En laasgenoemde, so het die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, ons lank gelede reeds herinner, is – tragies genoeg – nie aanspreekbaar of oortuigbaar met rasionele argumente nie.
– Dr Carel Anthonissen is ‘n afgetrede NG leraar wat vir meer as twintig jaar Studenteleraar vir NG lidmate in Stellenbosch was. Hy was in 1999 voorsitter van ‘n ad hoc- kommissie wat ‘n verslag oor homoseksualiteit voor die Wes-Kaapse Sinode gebring het. Dié verslag het destyds die NG Kerk versoek om sy bestaande beleid oor “gays” te hersien. Dit het ook die gesprek oor gays se plek en status in die NG Kerk aan die gang gesit – ook die basis gevorm van ‘n boek wat hy in 2001 saam met Pieter Oberholzer geskryf het. Die boek wat ‘n uitnodiging was tot direkte en sinvolle dialoog met gay lidmate se titel is: Gelowig en gay?
