NG Kerk is bekommerd oor wetsontwerp

Haatspraak en haatmisdaad moet bekamp word. Die waardigheid, vryheid en gelykheid van individue moet beskerm word. Die NG Kerk is egter bekommerd oor die voorgestelde wetgewing waardeur die regering dit wil doen.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, sê die beoogde wetgewing is op 24 Oktober 2016 deur minister Michael Masuta aangekondig. Die voorstelle is vervat in die Combatting of Hate Crimes and Hate Speech Bill (Wetsontwerp op die Voorko­ming en Bestryding van Haatmisdade en Haatspraak) waarop die publiek voor 31 Januarie 2017 moet reageer.

Die wetsontwerp se doel is om uitvoering te gee aan die regering se verpligtinge, in terme van die Grondwet, om gelyke regte te reguleer en diskriminasie te verbied, deur oortredings van “haatmisdaad” en “haatspraak”.

“Haatspraak” word in die wetsontwerp beskryf as enige vorm van kommunikasie waar ’n persoon ’n ander persoon of groep persone sou dreig, beledig, be­spot of skeltaal teenoor ’n persoon of ’n groep persone gebruik.

Claassen sê “haatspraak” word in die konsepwet baie wyd omskryf. ’n Vae en wye definisie het die gevolg dat inbreuk gemaak word op ander regte soos vryheid van spraak wat maklik gebruik kan word om kritiek teenoor die regering en ander instellings te onderdruk.

Die kerk meen huidige wette teen “haatspraak” in Suid-Afrika behoort voldoende te wees, en bykomende wetgewing in hierdie verband lyk oormatig en oorbodig.

Afgesien van die bepaling in die Grondwet afdeling 16(2)(c) verbied die Gelykheidswet (Equity Act 2000) al klaar enigiets wat kwetsend is.

Ondanks dié wet se ongelooflike wye definisie van haatspraak het dit nie tot ’n merkbare toename in klagtes gelei nie. Gelykheidshowe is juis geskep sodat Suid-Afrikaners hulle goedkoop en sonder regsverteenwoordiging na die siviele howe kan wend as hulle slagoffers is van haatspraak. Daar is ’n redelike afname in terme van klagtes wat deur dié howe die afgelope paar jaar hanteer is.

Die Menseregtekommissie se hantering van klagtes oor haatspraak het die laaste paar jaar ook nie merkbaar toegeneem nie. Regskenners is dit eens dat syfers nie strook met die uitsprake van die regering en politici dat hulle oorval word met klagtes oor haatspraak en haatspraak daarom ’n strafregtelike oortreding moet word nie.

Dié wetsontwerp het die potensiaal om die hele geloofsgemeenskap van Suid-Afrika negatief te raak. Terwyl dit die klaarblyklike bedoeling van die wets­ontwerp is om rassisme en xenofobie te bekamp, kan die breë definisie van haatspraak ’n ernstige impak op vryheid van spraak hê, veral op vryheid van geloof. In dié opsig word die integriteit van die Grondwet in gedrang gebring.

Die vryheid van kunstenaars en joernaliste, die vryheid van wetenskaplikes en ander akademici asook dié van geloofsgemeenskappe sal op ’n onredelike wyse beperk word.

Die vryheid van uitsprake deur die kerk oor kontroversiële sake met betrekking tot geslag, seksualiteit, voortplanting, huwelik, genadedood, dissipline en straf, etiek en moraliteit, sal ernstig beperk word. Dit sou die profetiese rol van die kerk ernstig benadeel.

Claassen sê die NG Kerk gaan by wyse van twee dokumente sy ongemak uitspreek oor die voorgestelde wetgewing. Gemeentes gaan ook gevra word om af­son­derlik te protesteer en riglyne hiervoor sal aan gemeentes deurgegee word.

Word 'n vriend van Kerkbode