Die vervolging van Christene vir hulle geloof het in 2016 erger geword.
Die blyk uit die jongste Wêreld-waarnemingslys wat op 11 Januarie deur Geopende Deure bekend gestel is. Dié organisasie wat ondersteuning verleen aan vervolgde Christene, maak sedert die 1970’s jaarliks ’n lys bekend van die 50 lande waar Christene die meeste vervolg word.
Ses verskillende faktore word in berekening gebring. Dit is faktore wat dit vir Christene moeilik maak om ’n private geloof te beoefen, druk van familielede op Christene, gemeenskapsdruk, druk van regeringskant af, druk op georganiseerde kerke, en die mate van geweld teen Christene.
Vir elkeen van dié faktore word ’n punt bereken en die totale punt van al ses faktore word gebruik om ’n land se plek op die lys te bepaal.
Op 2017 se lys is dit grootliks dieselfde lande as op vorige jare se lyste. Noord-Korea is vir die 15de opeenvolgende jaar bo aan die lys. Die top 11 lande is ook presies dieselfde as die vorige jaar, al verskil die volgorde op plekke. Die gemiddelde telling van al die lande is egter nou hoër as op 2016 se lys, wat beteken dat die vlak van vervolging oor die algemeen verhoog het.
Die opkoms van godsdiens-gekoppelde nasionalisme is een verklaring hiervoor. Veral in Indië is dit die geval na die oorwinning van Hindoe-nasionaliste in die verkiesing van 2014. Agt Christene is in die afgelope jaar vermoor en dit lyk of die regering die radikales wat hiervoor verantwoordelik is, ongestraf laat bly.
In Asië is daar ook meer regerings wat die nasionalistiese kaart speel om hulle eie onsekerhede te probeer bestry. ’n Mens hoor byvoorbeeld dat daar gesê word om ’n Sri Lankaan te wees, is om ’n Boeddhis te wees, of om ’n Maleisiese burger te wees, is om Moslem te wees.
Geopende Deure sê nie ’n enkele land in Oos-Asië het die afgelope verslagjaar ’n laer telling behaal nie. Nêrens in dié streek gaan dit beter met Christene nie.
Ander faktore wat ’n rol speel, is die opkoms van Islamitiese radikalisme in Afrika suid van die Sahara, en die polarisering in die Midde-Ooste tussen radikale aan die een kant en outoritêre regimes aan die ander kant.
Wat geweld teen Christene betref, bestempel Geopende Deure Sub-Sahara-Afrika die afgelope dekade al as ’n slagveld. Daarby praat hulle van “die allerdeurdringendste geweld” wat in Pakistan aangeteken is.
Uit Sirië en Irak is daar die afgelope jaar minder berigte ontvang van Christene wat vermoor is, maar dít, sê Geopende Deure, is omdat die meeste Christene reeds uit dié lande gevlug het.
Te midde van al die slegte nuus, is daar egter ook tekens van hoop. Uit Sjina is daar byvoorbeeld die verhaal van ’n pastoor wat sy groeiende kerk moes sluit omdat regeringsamptenare ongemaklik geraak het oor die grootte daarvan. Dit het daartoe gelei dat die kerk in klein groepies opgedeel het wat afsonderlik vergader het.
Dit het ook daartoe gelei dat die manier van aanbidding, wat grootliks op ’n Westerse lees geskoei was, in gedrang gekom het. Die pastoor meen die kans dat die Christelike godsdiens nou meer sal verinheems, is nou baie beter. En dit is vir hulle ’n goeie ding.
– Besoek www.opendoors.org.za vir meer inligting.
Hier gaan dit baie erger
Ses lande waar die situasie vir Christene baie agteruitgegaan het, is:
- Jemen het opgeskuif van 11de op die lys tot 9de. In Jemen se burgeroorlog is die meeste kerke in die land vernietig. Nie een kerk funksioneer meer nie. Die invloed van Islamitiese militante neem toe.
- Indië het van 17 af opgeskuif tot 15. Die opkoms van Hindoe-nasionalisme het daartoe gelei dat militante Hindoes al meer aanvalle op Christene doen. Hulle probeer Christene selfs met geweld dwing om terug te keer tot die Hindoe-geloof.
- Vietnam het opgeskuif van 20 tot 17. Die regering verskerp sy kommunistiese fokus en daar word al meer geweld deur regeringsamptenare teen Christene gebruik, veral as hulle van etniese minderhede is. Regeringsamptenare word verdink van die moord op drie Christene.
- Laos het opgeskuif van 29 tot 24. Christene word hier van twee kante af onder druk geplaas, van Boeddhistiese gemeenskappe wat hulle verstoor én van die regering wie se fokus op kommunisme verskerp het.
- Bangladesj het opgeskuif van 35 tot 26. Hier is dit veral Moslem-militante wat druk op Christene plaas. Vier Christene, onder wie twee voormalige Moslems, is vermoor.
- Boetan in Asië, wat van die 38ste posisie opgeskuif het tot by 30. Die land is volgens sy grondwet ’n Boeddhistiese land. Daarom word daar al meer druk toegepas op Christene, terwyl familie en vriende Christene se oortuigings wantrou.
Só lyk die top tien
Die syfer tussen hakies dui aan waar die land op 2016 se lys was.
- Noord-Korea (1)
- Somalië (7)
- Afghanistan (4)
- Pakistan (6)
- Soedan (8)
- Sirië (5)
- Irak (2)
- Iran (9)
- Jemen (11)
- Eritrea (3)
