Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Japie du Plessis oorhandig die akte van bevestiging aan ds David Chikate. Foto verskaf

Na 40 jaar word Angolese vlugteling ’n NG dominee

Meer as 40 jaar nadat ’n jong seun saam met sy mense uit die oorloggeteister­de Angola na die destydse Suidwes-Afrika gevlug het, het hy nou ’n predikant van die NG Kerk geword.

David Chikate was destyds deel van ’n groot groep Angolese wat by Rundu oor die grens gekom het en toe ’n tuiste gevind het by 32 Bataljon in die noorde van Suid­wes-Afrika. Destyds was ds Japie du Plessis die kapelaan wat gehelp het om die groep te ontvang.

Met die onafhanklikheid van Namibië en die onttrekking van die Suid-Afrikaanse Weermag aan die land, het die groep Angolese Suid-Afrika toe gekom en is hulle by Pomfret in die Noord-Kaap gevestig. Toe al het hulle kerklik by die NG Kerk ingeskakel.

Van Pomfret af is hulle na Zeerust en die 2 SA Infanteriebataljon verskuif. Hier het die groep ’n geestelike tuiste gevind in die NG gemeente Zeerust. Hulle bestaan nou uit sowat 60 lidmate.

Met die instemming van die ring is daar vir hulle ’n gedesentraliseerde kerkraad gevestig. In dié hele proses het ds Attie Bezuidenhout van Groot-Marico, as konsulent van Zeerust, ’n belangrike rol gespeel.

Chikate het homself intussen teologies voldoende bekwaam dat hy in 2013 met beperkte bevoegdheid tot die bediening van Portugeessprekende lidmate toegelaat is.

Met die totstandkoming van die gedesentraliseerde kerkraad in November 2016, is hy as predikant van die Portugeessprekende wyksgemeente beroep en op 3 Desember is hy in die amp bevestig.

Vir ds Chikate was dit ’n blye weersiens na 41 jaar toe die einste ds Japie du Plessis wat hulle destyds as vlugtelinge in Suidwes-Afrika ontvang het, die akte van bevestiging aan hom oorhandig het.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top
Your Image Your Image Your Image

Die Kerkbode-toepassing (app) is beskikbaar op jou selfoon. Installeer dit vandag nog.