Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Wellington-brande: Hele gemeenskap staan saam

Wellington. – “Die Hemelse Vader voorsien. Almal in die gemeenskap help,” sê Marié Smit waar sy Dinsdag, 17 Januarie, in die NG gemeente Wellington-Oos se kerksaal staan.

Marié vertel dat dié saal sedert die vorige dag ʼn versamel- en verspreidingspunt is vir brandslaners wat in die omgewing swoeg nadat ʼn brand ontstaan het.

ʼn Werknemer op die plaas waar die brand ontstaan het, ʼn gemeentelid gekontak vir hulp vanuit die gemeenskap, sê ds NJ van As van die gemeente. Hy sê die hulp kom nie net van hulle gemeente nie, maar spontaan vanuit die hele gemeenskap.

“Almal help. Hier het vanoggend ʼn man van Oosterse afkoms kom vra hoe hy kan help. Dit hou net nie op nie. Presies dit wat ons nodig het stroom in,” sê Marié terwyl ʼn vrou ʼn klomp bokse propvol pizzas en bottels water begin indra.

Catherine Entwistle, die eienaar van die plaas Val du Charron net buite Wellington, verduidelik: “Die brand is ongelooflik groot. Daai manne werk so hard. Ek kan nie glo hoe die helikopters letterlik tot binne in die brand vlieg om water te gooi nie. Ons moet help, want as die wind waai, gaan ons ook hulle hulp benodig. Al is ons aan die ander kant van die vallei van waar die brand tans is.”

Estelle Wiggle, ʼn werknemer van HG Molenaar in die Paarl, het ook kom pasteie, sjokolade en oogdruppels aflaai nadat dié maatskappy besluit het om R5000 beskikbaar te stel.

Intussen het daar nog ʼn versamel- en verspreidingspunt by die Stoekie-skool op die Perdeskoen (ʼn pad oos van Wellington) ontstaan. Karin van As, ʼn gemeentelid van Wellington-Oos, is werksaam by dié punt en verduidelik die punte skuif soos wat die brand skuif. “Die Voortrekkersaal (aan die voet van Bainskloof) is ook solank in gereedheid gebring indien die brand verder na daardie kant versprei.”

Sy vertel ook hoe ongelooflik is dit dat die hele gemeenskap saam staan, maak nie saak van waar hulle is of watter denominasie nie.

Teen Dinsdagmiddag was die brand op die plaas Dagklip links agter die Perdeskoen, het Barry Stander, bevelvoerder van brandslaanspanne in Wellington gesê.

“Ons probeer nou om die brande van die huise af weg te hou, dis ons eerste prioriteit,” het Barry gesê.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top