Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Alexa sal die vrae beantwoord

As ’n ongelowige wil weet wie is Jesus of wat is die doel van die lewe, kan hy of sy gerus vir Alexa vra.

Alexa is ’n evangelisasie-app wat in Oktober verlede jaar gebore is tydens die Code for the Kingdom Hackathon 2016 in Londen. ’n Groep van 70 rekenaarprogrammeerders het by dié geleentheid saamgekom om tegnologie kreatief in te span om die kerk met haar taak te help.

Een van hulle was Jannie Theunissen, wat vroeër 15 jaar lank as sendeling van die NG gemeente Strand-Noord in Thailand gewerk het, en nou voltyds vir die organisasie OneSheep programmering doen. Met Alexa het hulle span die prys vir die belowendste evangelisasie-app by die kompetisie gewen.

Ander interessante idees wat daar gebore is, is ’n plan om die Bybel in geslote lande te versprei, ’n program waarmee ’n gebedsketting in ’n gemeente gevestig kan word en ’n program om vas te stel waar die beste plekke is om kerke te plant.

Daar was selfs ’n groep wat gewerk het om ’n “dating”-program vir Christene die lig te laat sien. Natuurlik kan sulke programme nie in die bestek van twee dae finaal afgehandel word nie, maar baie werkbare prototipes is gebou wat later met die no­dige afronding gepubliseer kan word.

Waar baie programme daarop gemik was om Christene te bemagtig, beywer OneSheep se Alexa haar om onbereikte, verlore mense met die evangelie te bereik. Daar is byvoorbeeld die opsie om vrae oor die Bybel te vra.

Maar as jy daarvan gebruik wil maak, moet jy alreeds heelwat oor die Bybel weet. Jannie-hulle het ’n “Bible chat”-vaardigheid gebou waardeur nie-gelowiges Alexa oor die Bybel kan uitvra.

Natuurlik kan Alexa nooit die plek van ’n evangelis inneem nie, want mens-tot-mens-interaksie is noodsaaklik wanneer jy iemand na Christus wil lei. Maar deur vrae te beantwoord, soos “Alexa, wat is die doel van die lewe?” of “Wie is Jesus?” kan dit die gebruiker in die Bybel geïnteresseerd maak en mettertyd kan Alexa voorstel dat die persoon met ’n Christen kontak moet maak.

Waaroor al die deelnemers by die Christelike Hackathon dit eens was, is dat tegnologie ’n geweldige bydrae kan maak tot evangelisasie en dat hierdie medium nog grootliks onderbenut word.

– Kyk ook na http://kingdomcode.uk/ en https://codeforthekingdom.org/global.html en https://devpost.com/software/bible-chat-o35vb2 vir meer inligting.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top