Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Manfred Haarde, lidmaat van die NG gemeente Sederpark op Lichtenburg, gesels met Filippynse kinders oor die Bybel tydens die Word Riders se besoek aan hulle skool. Foto: Francois Sieberhagen

Word Riders versprei Bybels in die Filippyne

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se Word Riders het nou al tot in die Filippyne gery.

Dr Francois Sieberhagen, NG predikant in voltydse diens van die Bybelgenootskap, vertel dat Word Riders in 2011 begin het toe agt motorfietsryers met hulle motorfietse gaan toer het en by arm skole in die diep platteland vir graad 7’s gaan Bybels gee het.

Sedertdien het dit ’n jaarlikse projek geword en in die laaste twee jaar was daar telkens meer as 40 motor­fietsryers bestaande uit leraars en lidmate van verskillende kerke. Tydens 2016 se toer is meer as 5 000 Bybels by 70 skole geplaas.

Met 2015 se toer het ’n Filippynse man, Gerard Mosquera, ’n blog oor die Word Riders se toer raakge­lees. Mosquera is die openbare beskermer op een van die Filippynse eilande en lid van die raad van die Filippynse Bybelgenootskap.

Die konsep het hom aangegryp en die Filippynse Bybelgenootskap het by sy Suid-Afrikaanse eweknie navraag gedoen of hulle die konsep ook kan gebruik.

Sieberhagen vertel dat die Filippynse Word Riders aanvanklik net eendaguitreike gedoen het, maar dat hulle besluit het om in November 2016 ’n langer toer te doen. Hulle het Suid-Afrika se Word Riders genooi om te kom saamry.

Saam met twee sakemanne van Lichtenburg, Manfred Haarde en Tony de Melim, is Sieberhagen na die Filippyne toe. Daar is vir hulle geborgde motorfietse gereël.

Die toer het vier dae in beslag geneem, was sowat ’n 1 000 km lank en hulle het net twee skole besoek. ’n Besoek aan ’n Filippynse skool verloop egter baie anders as aan ’n Suid-Afrikaanse skool waar die Word Riders gewoonlik net 40 of 45 minute kry om met die kinders te praat. Filippynse skole is ook baie groter as Suid-Afrikaanse skole.

By die een skool het hulle 1 500 Bybels aan graad 8-kinders gegee. Hulle het die oggend ’n sessie van twee en ’n half uur met die helfte van die kinders gehad, en die middag nog so ’n sessie met die ander helfte. Hulle kon in klein groepies met die kinders gesels en vir hulle vertel van die Bybel.

Die volgende dag het hulle ook twee sulke sessies by ’n ander skool gehad en 800 Bybels aan die kinders gegee.

Die Filippyne is hoofsaaklik ’n Katolieke land, maar daar is ook heelwat protestantse gelowiges en ’n klein minderheid Moslems. Vir die Katolieke kinders word Bybels met die deutero-kanonieke boeke gegee en vir die Protestante die Good News Translation.

Van die Moslemkinders het ook kom Bybels haal.

Sieberhagen sê dit is opwindend dat ander Bybelgenootskappe ook begin inkoop op die Suid-Afrikaanse konsep van Word Riders wat Bybels versprei. Boonop was die besoek vir die drie Suid-Afrikaners ’n geestelik verrykende ervaring.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top