Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Jaco Strydom bedien die nagmaal op ’n terras in die tuin voor die Uniegebou. Foto: Neels Jackson

Echo gaan oor saam lewe

Echo Jeugontwikkeling is ’n projek wat 15 jaar gelede onder leiding van ds Jaco Strydom in Pretoria ontstaan het. In die hart van hulle filosofie hoor ’n mens telkens die woord “community” of “gemeen­skap”. Want dit is dáár wat die liefde van Christus tussen sy volgelinge gestalte kry. Dit is daar waar mense vir mekaar omgee, mekaar help en ophelp. Dis dikwels die gebrek aan goeie en gesonde verhoudinge wat jongmense die spoor laat byster raak. Vir baie sulke jongmense is Echo die gemeenskap waar hulle weer die verhoudinge vind wat hulle help om heel te word. En dit gebeur nie meer net in Pretoria nie, want daar het sedertdien ook Echo-gemeenskappe in Johannesburg en die Kaap tot stand gekom. Neels Jackson vertel.


Hier leef hulle geloof in aksie

Dis ’n vrolike geruis by Echo@work in Johannesburg, want dit is weer tyd vir almal om saam te eet.

Die gesamentlike etes is ’n belangrike element van die Echo-leefwyse. Saam eet is ’n manier om ’n gemeenskap te bou, om verhoudinge te versterk, om deel te wees van mekaar se lewe. Deur saam te eet, volg mense die voorbeeld wat Jesus gestel het.

Echo@work is spesifiek gerig op jong werkendes. Onder die 12 inwoners is daar vyf leiers wat as mentors optree vir die ander. Ds Erick du Toit noem dit ’n organiese proses van dissipelskap.

Hulle bly in die sentrum by die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg.

En wat ’n interessante, uiteenlopende groep is hulle nie.

Ray Williams (22) was in die Abraham Kriel-kin­der­huis in Langlaagte. Sy het later by ’n kettingwinkel begin werk en die opgewondenheid by vanaand se ete gaan oor ’n modevertoning wat sy op haar eie gereël het en wat hopelik nuwe deure gaan open.

Ray tree op as mentor vir twee ander inwoners, maar oor haar verhouding met dié jongmense sê sy: “Ons leer by mekaar. Sy is ook my leier.”

Sibaniso Ntshakala (18) het uit Vryheid in KwaZulu-Natal Johannesburg toe gekom om te kom studeer. ’n Weldoener betaal sy studie, maar om in Johannesburg ’n tuiste (nie net ’n blyplek nie) te vind, was nie mak­lik nie. Echo@work het die gemeenskap geword waar hy tuisgekom het.

“Pray to God and help other people,” sê Sibaniso.

Joshua Masudi weet nie regtig hoe oud hy is nie. Hy het in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo grootgeword. As seuntjie is hy van sy maats ontvoer en gedwing om ’n kindersoldaat te word.

Later het hy gevlug. Na omswerwinge deur Burundi, Tanzanië, Malawi, Mosambiek en Zimbabwe het hy in 2007 in Suid-Afrika aangekom. Nadat hy in Pretoria op straat en in verskillende skuilings gebly het, het hy in 2012 by die Echo-gemeenskap in Villieria ingeskakel.

“That is my home. That is where everything happened. I did my matric there,” vertel hy. Vir hom is die Echo-gemeenskap sy familie.

Nou werk hy by Jeep SA. Hulle borg hom om aan die Warrior-hinderniswedlope deel te neem. Hy doen goed en sy naam is hoog op die landwye ranglys.

Jason Mofokeng (21) het in die Maria Kloppers-kinderhuis in Johannesburg grootgeword. Toe hy op 18 moes uit, het hy ’n werk gekry en by die Echo-gemeenskap in Melville gaan bly. Maar die werk was nie vir hom lekker nie en hy het later nie meer gaan werk nie. Toe kon hy ook nie meer sy huur by Echo betaal nie en hy moes gaan.

Drie maande lank het hy op straat gebly, maar dit was die grootste les oor verantwoordelikheid wat hy in sy lewe geleer het. Sedertdien het hy gestudeer en nou werk hy by ’n klerewinkel.

Hy het egter baie goed gedoen in ’n sangkompetisie en droom nou oor ’n toekoms waarin musiek ’n groot rol sal speel.

Echo, sê hy, is ’n gemeenskap wat regtig lief is vir mense. Daar is omgee, hulp en ondersteuning.

Jan-Chris Avenant (25) is ’n meganiese ingenieur. As student het hy mense leer ken wat by Echo en by die vroeëre Intentional Living in Pretoria betrokke was.

Hy het gedink hy kan nie maar net ’n “normale” lewe leef nie. As jy ’n Christen is kan jy nie net jou eie lewe opbou nie. Dit kan nie maar net gaan om ’n veilige huis, hoë mure en soveel moontlik goed wat jy bymekaar maak nie.

“Om ’n Christen te wees, moet jy kontak hê met armoede,” sê Jan-Chris. “Jesus was by die armes. Jy moet betrokke raak by nood.”

Dis waarom hy by Echo betrokke geraak het. Hier beleef hy geloof in aksie. Hier sien hy Jesus in die ander mense se oë.

‘Almal het community nodig’

Ds Niel Steyn wou ’n gemeenskap soos Echo s’n in die Kaap op die been bring.

Maar, was die vraag, waar begin ’n mens?

“Eet saam met mense,” het ds Jaco Strydom vir hom gesê.

Niel en Aubrey
Niel Steyn en Aubrey Thompson. Uit uiteenlopende agtergronde het hulle deel geword van een gemeenskap by Echo in Kaapstad.

Hulle het nie vergaderings gehou om alles te beplan of ’n projekkomitee op die been gebring nie. Niel het eenvoudig begin om mense te nooi, en om lidmate te vra om mense saam te bring.

Die eerste aand was daar so 10 mense, maar dit het gegroei sodat hulle nou weekliks omtrent 40 mense is wat saam eet. Daar is haweloses, daar is verslaafdes, daar is mense wat in die Echo-huis bly wat intussen gevestig is, daar is lidmate van Tableview-gemeente.

En daar is stories wat uit dié etes gekom het, soos dié van die drie dwelmverslaafdes Reno en die twee Nics. Dis hulle wat kom vra het hoekom bid en eet hulle net saam. Hoekom lees hulle nie ook uit die Bybel nie.

Reno is later na ’n rehabilitasiesentrum toe en hy is nou skoon. Hy het sy eie besigheid, is getroud en hulle het ’n baba. Hy huur nou ’n plaas en maak dakplate. En hy wil nou ander mense help, mense soos Barry wat ook nou skoon is en op die plaas werk.

Niel vertel dat hulle hulle eerste Echo-huis einde 2013 in Table View begin het. Die gemeenskap wat hulle daar gevorm het, bestaan uit naskoolse jongmense.

Hy vertel ’n bietjie geïrriteerd dat mense soms by hulle kom en dan vir mense in hulle gemeenskap vra: “Is jy nou een van die helpers, of is jy iemand in nood?”

Dis ’n simpel vraag, sê hy. Almal het community nodig. Almal het soms iemand anders se hulp nodig. Dis die leefwyse wat hulle kies. Die lewe is beter in community as op jou eie. Dis waar ’n mens saam kan lag en saam kan huil. Dis die lewenswyse wat die evangelie vra.

Een van die stories wat wys hoe iemand wat baie probleme het, kan groei om ander te help, is dié van Aubrey Thompson (32). Hy is die oudste inwoner van die Echo-huis in Table View.

Hy was in en uit die gevangenis, vertel hy. Bedrog en winkeldiefstal – alles om dwelms te kan koop. Die laaste keer was vir drie jaar.

Dis daar dat die Here sy oë oopgemaak het. Hy het besluit hy wil nie so lewe nie, dis nie hoe hy grootgemaak is nie. Danksy een van die tronkbedienings het hy besluit om sy lewe vir die Here te gee.

Na sy vrylating het sy paaie met dié van die Echo-gemeenskap gekruis. Aanvanklik sou hy net vir ’n maand by hulle gebly het, maar toe is daar besluit hy kan langer bly.

Wat het die Echo-gemeenskap vir hom beteken?

“So baie,” sê Aubrey. Hy noem blyplek en werk, maar praat oor verhoudinge.

“My siening van mense het verander. Ek het geleer jy kan in gemeenskap saamleef ongeag ras of kleur. Hulle ondersteun my as versoekings van dwelms en drank oor my pad kom.”

Aubrey werk nou saam met Bushy by ’n maatskappy wat inskrywings van padwedlope en -wedrenne deur die internet hanteer.

Bushy se regte naam is Jaco Smith, maar omdat daar soveel Jaco’s by Echo was, het hy Bushy geword.

Van hom sê Jaco Strydom: “Ons almal wil soos Jesus wees. Maar as ons nie soos Jesus kan wees nie, wil ons darem soos Bushy probeer wees.”

Bushy het vir Aubrey, soos vir van die ander inwo­ners van die Echo-huis, ingetrek by sy werk. Dat hulle nie net saambly nie, maar ook saamwerk, gee baie diep­te aan hulle verhoudings, sê hy.

In die proses is daar geleentheid vir mense om te groei. Aubrey, byvoorbeeld, het aanvanklik nie eens geweet hoe om ’n rekenaar aan te skakel nie. Nou is hy die bestuurder van hulle inbelsentrum.

As oudste inwoner van die Echo-huis, tree hy op as ’n mentor vir van die jonger manne.

“Dis die Here se genade wat my gebring het waar ek is,” sê hy.

Daardie genade gee hy nou aan na ander.

Die gemeenskap help om heel te maak

Laatmiddag, vroegaand val die laaste sonstrale oor die Uniegebou. Op die derde terras van die tuin, aan die westekant, sit ’n groep mense. Die meeste is jonk, maar nie almal nie. As jy gaan vra, sou jy hoor daar is verskeie moedertale onder hulle.

’n Mens sou kon dink dat dit iets van Nelson Mandela se reënboognasie is wat hier, so ’n entjie van sy groot standbeeld af, bymekaar kom. Maar dié groep van Pretoria se Echo-gemeenskap volg ’n ander leier, Jesus Christus, en hulle is hier om sy maaltyd saam te gebruik.

’n Lang tafel waarby almal van Echo@Work in Johannes­burg saam eet. Saam eet is ’n sentra­le element van die Echo-leefwyse. Foto: Neels Jackson
’n Lang tafel waarby almal van Echo@Work in Johannes­burg saam eet. Saam eet is ’n sentra­le element van die Echo-leefwyse. Foto: Neels Jackson

Dis ’n gereelde instelling om so in die Uniegebou se tuin te kom nagmaal gebruik.

Eers sit die groep net so saam en kuier. Dan begin iemand op haar kitaar speel en hulle sing saam.

Ds Jaco Strydom vra die mense om in groepies van twee met mekaar te praat oor die beste ding en die slegste ding wat die dag opgelewer het. Hy deel ook nuus oor ’n paar ander mense van die Echo-gemeenskap wat nie daar is nie.

Daar is een of twee wat siek is. Nog een, vertel Jaco, gaan deur ’n baie moeilike tyd. Dwelms. Tronk.

Dis nie vreemd nie. Echo is ’n gemeenskap wat stukkende mense verwelkom. Hulle glo die beste plek om heel te word, is in ’n gemeenskap van Christelike liefde. Dit gebeur nie altyd vinnig of maklik nie, en daarom is die verhale van val en opstaan en weer val altyd daar. Soos die hoop dat daar altyd weer ’n geleentheid is om op te staan.

Wanneer hulle bid, bid die mense van Echo vir mekaar, vir dié wat siek is of sukkel. Maar hulle bid ook vir die land wat van die kantore hierbo af geregeer word, vir die stad en die studente. Daar is ook tyd vir stilgebed.

Jaco lees van sy tablet af die verhaal van die instelling van die nagmaal, van Jesus wat die brood gebreek het en die wyn geskink het, van sy liggaam en sy bloed.

In stilte gebruik hulle die nagmaal saam. In die agtergrond klink die stadsgeluide op.

“As jy jou oë toemaak, kan jy jou verbeel dis die see, behalwe vir die toeters,” sê Jaco.

Teen die tyd dat die byeenkoms verby is, is dit donker. Party staan nog rond en gesels ’n bietjie, terwyl ander stuk-stuk begin teruggaan huis toe, terug na die lewe toe.

Versterk deur die nagmaal. Want die nagmaal is ook ’n gemeenskapsmaal, en dis in die gemeenskap, in die onderlinge verbondheid, dat die liefde van Christus na hulle toe kom.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top