Die Seisoen van Menswaardigheid skop die jaar af met ’n doelgemaakte reeks oor die tema van respek.
Na afloop van 2013 se Algemene Sinode is ’n taakspan onder leiding van dr Elize Morkel byeengeroep om die Seisoen van Menswaardigheid te bestuur. Dié projek fokus daarop om die menswaardigheid van alle mense in gebroke samelewings te herstel en is ’n gesamentlike inisiatief van die familie van NG Kerke in Suider-Afrika. Twee persone van elk van die kerke dien op die bestuurspan.
Suider-Afrika het dríngend genesing nodig. Ons lewe in samelewings wat gekenmerk word deur gevoelens van gekwestheid, bitterheid en wrokkigheid. Hierdie gevoelens kan slegs in positiewe emosies verander word indien ’n gees van menswaardigheid en respek teenoor ander heers. Eers dán sal ons lande en hulle mense die pad na herstel kan aanpak.
Die Seisoen van Menswaardigheid-projek hanteer vier temas, naamlik respek, luister, liefde en omarming. Hierdie vier begrippe is die sleutels tot ’n landwye gesindheid van ubuntu – ’n gees wat nou broodnodig is in Suider-Afrika.
Respek is die eerste tema wat in 2017 behandel word. Volgens ds Freddie Schoeman, lid van die bestuurspan van die Seisoen van Menswaardigheid-projek, voel menige Suid-Afrikaner dat respek iets is wat verdien moet word. “Jesus Christus leer egter dat respek iets is wat ons aan mekaar moet gee, ongeag optrede en bloot omdat alle mense na God se beeld geskape is,” verduidelik hy.
Die NG gemeente Witrivier het met die taakspan saamgespan om ’n reeks te ontwikkel wat respek behandel. Alle gemeentes kan deelneem aan die reeks en die materiaal is gratis beskikbaar.
Op Sondag 29 Januarie begin Witrivier saam met verskeie ander gemeentes met die reeks en tydens die eerste week word gesels oor die effek van respek. Ander weektemas sluit in: God as die bron van respek, selfrespek, respek vir randfigure, respek vir nabymense en die viering van waardigheid. Die reeks strek oor sewe weke.
Gemeentes kan ook die reeks op hul eie tyd aanpak en hoef nie noodwendig op 29 Januarie daarmee te begin nie.
Daar is verskeie hulpbronne op www.menswaardigheid.co.za beskikbaar, onder andere ’n kleingroephandleiding, leiershandleiding, DVD en jeuggids. Gemeentes kan gerus vir ds Jurgens de Jager van Witrivier, by dsjurgens@telkomsa.net kontak.
Meer inligting oor die Seisoen van Menswaardigheid kan by www.menswaardigheid.co.za verkry word.
