Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Die kerk het die storie vergeet’

“Die kerk het die storie vergeet.”

Dít was die titel van die toespraak wat prof Peter Storey, emeritus-professor aan Duke Divinity School en predikant in die Metodistekerk, by die jaarlikse Teologiese Dag van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch (US) gelewer het. Die tema van die dag was: “Geloof en die burgerlike samelewing”.

Storey het in sy toespraak die Ou-Testamentiese wildernis-metafoor gebruik om die status quo van die verhouding tussen die kerk en die burgerlike samelewing in Suid-Afrika te beskryf.

“Ons het die lesse en stories wat ons tydens die wildernis van apartheid geleer het, vergeet. Ons het ʼn heerser soos God nodig wat ʼn a-tipiese koning sal wees.”

Hy beskryf ʼn burgerlike samelewing waar God as ʼn ongewone heerser heers, soos volg: “Dit is ʼn samelewing waar mense verantwoordelikheid vir mekaar neem en verantwoordbaar leef. ʼn Samelewing waar diens eerder as selfverwesenliking geleef word en heersers met integriteit leef.

“In ʼn samelewing waar God heers, vind ekonomiese geregtigheid plaas en die weerlose word versorg en deel van die burgerlike samelewing gemaak. In só ‘n samelewing word mense se intrinsieke waarde as beeld van God erken en word daar versoening en respek tussen mense geleef. Dis die rol wat die kerk in die burgerlike samelewing van Suid-Afrika moet speel,” sê Storey.

Storey noem vier maniere waarop die kerk hier en nou ʼn verskil kan maak.

  • Eerstens moet die kerk die waarheid praat. Die kerk moet die leuens en korrupsie in die land ontbloot omdat dit nie die wil van God is nie.
  • Tweedens moet die kerk die gebrokenes versorg. Dit help nie daar word oor gepreek, maar die kerk is nie bereid om met gebrokenes te identifiseer as dit iets kos nie.
  • Derdens moet kerke die alternatief lééf wat hulle in die wêreld wil sien.
  • Laastens moet kerke metodes van transformasie, wat die wese van Christus nastreef, soek.

“As ons God se wil vir die burgerlike samelewing wil nastreef, moet ons nie die storie van apartheid in ons kerke vergeet nie. Die probleem is die kerk het reeds vergeet.

“Die uitdaging is om hier en nou die lesse wat ons in die apartheid-wildernis geleer het, toe te pas en te onthóú. Ons moet Suid-Afrika se burgerlike samelewing ʼn samelewing van die koninkryk van God maak. God se droom vir Suid-Afrika is dat ons saam as één liggaam en één kerk sy koninkryk in die hier en nou leef,” sê Storey.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top