Dit moenie elke haan op sy eie mishoop wees nie. Die gedagte is om ’n netwerk te vorm sodat almal na mekaar kan luister en by mekaar kan leer.
So gesels ds Manie Groenewald van die NG gemeente Moreletapark oor die Suid-Afrikaanse Netwerk vir Kleingroepbedieninge wat hy op die been help bring het.
Groenewald is al ’n paar jaar lank nou betrokke by Moreletapark se kleingroepe. Hy sê in enige groot gemeente gebeur dit maklik dat onderlinge verhoudings nie tot hulle reg kom nie. Kleingroepe kan ’n geweldige rol speel om die koinonia, die gemeenskaplike bande, tussen lidmate op te bou.
Hy het dit self ervaar toe sy seuntjie in ’n ongeluk was en in die hospitaal beland het. Die ondersteuning wat hulle uit hulle kleingroep gekry het, was vir hulle gesin ontsaglik baie werd. Dit sluit in morele steun, maar ook praktiese hulp.
Groenewald sê in sy soeke na materiaal oor en vir kleingroepe het hy afgekom op die werk van Steve Gladen van die Saddleback Church in die VSA. Hy het ’n konferensie daar gaan bywoon en gehoor van ’n wêreldwye netwerk van kerke met kleingroepbedieninge wat mekaar met hulle raad en verskillende ervarings help.
Dié netwerk wou na Afrika uitbrei en hy het ingestem om te help. Sover het hulle al ses netwerkgroepe in Suid-Afrika gevestig. Hulle is in die ooste van Pretoria, die Oos-Rand, Wes-Rand, Bloemfontein, Kaapstad, Port Elizabeth, Witrivier en Vanderbijlpark.
Omtrent in elke groep is NG gemeentes sterk betrokke, maar ’n wye spektrum van ander kerke, van Gereformeerd tot charismaties, neem ook deel. Gemeentes wat by dié netwerk wil inskakel of netwerkgroepe in ander sentra wil help vestig, is welkom, sê Groenewald.
Dié netwerk reël nou ook twee konferensies waarby Gladen gaan kom praat. Die een is op 25 Februarie in Kaapstad en die ander op 4 Maart in Pretoria. Kaartjies daarvoor kan teen R195 by itickets.co.za bespreek word.
* Meer inligting is by smallgroups@moreleta.co.za beskikbaar.
