Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Moet ’n Christen links of regs wees?

Moet ’n Christen links wees, of juis regs? Moet die kerk die ooreenkomste met die Islam beklemtoon, of juis die verskille?

Dié vrae word tans druk gedebatteer in die Protestantse Kerk in Nederland (PKN), die samevoegsel van die ou Nederlandse Hervormde Kerk, die Ge­re­formeerde Kerken in Nederland en die Evangelies-Lutherse Kerk.

Die begrippe links en regs word in Nederland tradisioneel ietwat anders as by wit Suid-Afrikaners verstaan. By laasgenoemdes het dit veral vroeër ge­gaan oor jou houding teenoor die rasseproblematiek (is jy vir apartheid – regs – of integrasie – links?). In Ne­derland was dit die ekonomie (is jy vir die kapitalis­me – regs – of die sosialisme – links?).

Deesdae het die Nederlanders nader aan die ou Suid-Afrikaanse verstaan beweeg. Deesdae verwys links ook na die mate waarin jy tolerant teenoor vreem­delinge (en die Islam) staan, en regs na die mate waarin jy klem lê op jou eie identiteit as Nederlander en Christen.

Die debat is aan die gang gesit deur die skriba van die PKN se moderamen, dr René de Reuver, wat in ’n onderhoud met die Protestantse dagblad Trouw gepleit het vir meer kontak met die Islam en die Moslems wat ’n nuwe tuiste in Nederland gevind het.

Die kerk, het hy gesê, word gekenmerk deur ’n identiteit wat ten diepste “van elders kom en nie lê in jou afkoms, jou opleiding, jou velkleur, jou posisie in die samelewing nie. Dis ’n plek waar jy oefen om saam te leef.”

Die kerk se maatskaplike taak is om menseregte te bevorder. “Daarby is dit nie moeilik om die lyne deur te trek na die Bybel, na die Tien Gebooie nie. Waardes soos vrede en sorg dra vir minderhede het alles met die Christendom te make.”

Gevra na die “gevaarlike kante van die Islam”, het De Reuver geantwoord die gesprek kan eintlik pas gevoer word “as jy aanvaar dat die Islam ook ’n godsdiens is wat vrede wil hê. Die Koran en die Bybel lyk op etiese vlak op mekaar. As jy die Tien Gebooie neem en die Koran, kom jy eintlik op dieselfde uit.”

De Reuver se uitlatings het taamlike beroering in sekere kringe van die PKN veroorsaak. In reaksie het twee konserwatiewe predikante, Henk-Jan Prosman en Willem Maarten Dekker, hom taamlik aangevat.

“Baie vlugtelinge hang ’n streng weergawe van die Islam aan. Ek voel geen enkele behoefte om my daar­aan te verbind nie. Dit is nie verstandig dat ’n kerk­leier dit wil hê nie,” het Prosman aan Trouw gesê.

Hy en Dekker meen die kerkleiding neem nie in ag dat die gewone kerklede – dié wat altans nog oor is – eerder konserwatief is nie. “’n Kloof loop deur die kerk,” sê Dekker.

’n Reaksie wat veral vir Suid-Afrikaners interessant sal wees, kom van ds Bas van der Graaf van Amsterdam. Hy herken by homself “die neiging om my Christelike oortuiging te vertaal in vernaamlik links georiënteerde standpunte. En natuurlik, die Bybel gee alle aanleiding om te dink in terme van solidariteit, barmhartigheid en geregtigheid.

“Die laaste jare begin ek egter terug te kom van ’n soort linkse outomatisme. Die Bybel dra ook temas aan wat ons deesdae eerder assosieer met ‘regs’. Dié temas wil ek nie onder die tapyt invee nie.

“Vir my beteken dit onder andere dat ek die Ou Testament ernstig wil neem. Ons het ons verlede jaar met die boek Esra besig gehou. Daar staan dinge wat nogal stewig weerklink in die huidige politieke de­batte.

“Boeke soos Esra, Nehemia en Kronieke stel heel kragtig die identiteitsvraag: ‘Wie is ons as volk, wat bind ons saam, hoe kan ons ons identiteit bewaar?’”

Een emeritus-predikant, Cornelis van den Berg van Amsterdam, het selfs uit die PKN bedank. Hy sê die Islam is “’n agterlike en gewelddadige godsdiens” en vind De Reuver “naïef”.

De Reuver, bygestaan deur prof Bernhard Reitsma, skrywer van die PKN se Islambeleid, het hierna op die kerk se webwerf op die bohaai geantwoord. Die kerk soek kontak met Moslems, nie weens die aard van die Islam of die Moslems se gedrag nie, maar vanuit sy eie identiteit, meen hulle.

“Die aard van die Christelike geloof, God wat Hom in Christus bekend maak, bepaal sy identiteit en dus ook sy verhouding tot verteenwoordigers van die Islam. Hoeveel Christene en Moslems ook in gemeen kan hê, op dié punt is daar groot verskille tussen die Chistendom en Islam. Dit neem nie die erkenning weg dat God Hom in sy hele skepping kenbaar gemaak het en dat talle Moslems God opreg soek nie.”

Hulle erken dat daar baie “eksklusiewe Moslems” is: “Hulle dwing desnoods met geweld ’n Islamitiese regime aan ander op. Daar is geen enkele rede om naïef te wees en die oë vir dergelike ekstremisme te sluit nie.

“Die geweld wat hierby gebruik word, is afskuwelik en roep angs op. Dit is begryplik dat Christene en nie-Christene groot kommer hieroor het.”

Dis ewenwel duidelik dat daar groot verdeeldheid in die PKN oor die saak is.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top