Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

’n Groep Bergrivierleerders wys hulle splinternuwe rugsakke. Foto: Ilne Portwig

’n Hart vir die “onsigbares”

Nadat Carla Portwig gesien het hoe ’n plaaswerker op ’n plaaspad doodgery is, het God iets in haar wakker gemaak. Vandag klop haar hart vir padveiligheid en saam met Wellington Moedergemeente kon hulle 107 plaaskinders beveilig met reflekterende rugsakke. CONETTE LE ROUX het saamgegaan.


Die leerders van Bergrivier Primêr staan soos soldaatjies in rye op ’n oop stuk grond in die stof langs hulle skoolgebou. Die Bolandse son bak ongenadig neer, maar daar is geen skaduwee wat skuiling bied nie. Steeds sing hulle luidkeels: “My God is so groot, so sterk en so magtig, daar’s niks wat my God nie kan doen!”

Dié verwelkoming is te danke aan Wellington Moe­der­gemeente en Visibility is Life, ’n maatskappy wat bewustheid vir voetgangers bevorder, wat vandag rug­sakke vir dié 107 Bergrivier-leerders kom uitdeel.

Ds Lettie Büchner van die Moedergemeente vertel hulle pak elke jaar ’n Kersprojek aan waardeur hulle na buite uitreik. Laasjaar het sy ’n oproep gekry van Carla Portwig (24), die eienaar van Visibility is Life, wat haar dié projek laat kies het.

Carla, ’n opgeleide onderwyser wat tans besig is met haar meestersgraad, woeker om borge te kry en self geld te genereer om rugsakke wat reflekteer by plaaskinders te kry wat op plaaspaaie skool toe stap.

Die idee is in 2015 gebore nadat Carla ’n nare ongeluk op ’n plaaspad aanskou het waarin ’n voetganger doodgery is. Hierna het haar hart vir die bewustheid van voetgangers begin klop.

“Die Here het iets in my wakker gemaak vir mense wat weerloos is. Mense wat van ander afhanklik is en byvoorbeeld nie motors het nie. Daar was die heeltyd ’n gevoel in my hart en ek het besef die Heilige Gees praat met my.

“Baie keer luister ’n mens nie na jou roeping nie. Ek het net besef as ék dit nie gaan doen nie, gaan die Here iemand anders gebruik.”

Die Bergrivierleerders luister met blink oë toe Carla later hulle nuwe rugsak wys en oor padveiligheid gesels. Net voor dit het Lettie ’n spesiale boodskap oor Psalm 121 gebring. “As jy dié psalm oor berge ken, kan jy enige iets aanpak,” het Lettie gesê.

“Hierdie is nie sommer enige rugsak nie, dis ’n rugsak wat jou sal veilig hou,” sê Carla – reflekterende beffie en polisiehoed op die kop. Sy wys vir hulle die logo en skouerbande. “As ’n kar of lorrie se lig hierop skyn, reflekteer dit,” sê sy.

Carla het ook vir Visi Bill saamgebring. Dié “sigbaarheidskonstabel” laat die kinders skaterlag met stories terwyl hy kastig die “verkeer” met oordrewe handtekens reguleer.

“Wat skool nog lekkerder sal maak, is as jy veilig by die skool aankom. En weet julle daar is goed wat julle self kan doen om veilig te bly?” vra Carla. Dan deel sy ’n opvoedingprogram oor padveiligheid met die kinders. Stap in ’n groepie en moenie oor die pad hardloop nie, is van die veiligheidsreëls waarvan sy vertel.

“Dis vir my ongelooflik belangrik dat ek nie net die tasse by ’n skooltjie gaan aflaai nie,” sê Carla. Behalwe vir die program deel sy ook ’n padveiligheidpamflet vir elke kind en onderwyser uit wat hulle in die klas moet opplak.

“Ek wil mense met liefde aanraak. Dié sakke wys die kinders hulle is dit werd om te leef. Ek wil hê elke kind moet opregte liefde hierdeur ervaar,” sê Carla.

Cindy Swarts (45), Bergrivier Primêr se waar­ne­men­de skoolhoof vir die afgelope vyf jaar, sê hulle is baie dankbaar vir hierdie skenking.

Cindy dink terug en vertel ’n leerder is sowat 10 jaar gelede op pad skool toe doodgery.

Sy verduidelik ook dis nie net in die wintermaande – wanneer dit vroegoggend donker is –wat voetgangers nie gesien kan word nie. “Hierdie stofpaaie maak ’n stofwolk wat ook voetgangers onsigbaar maak. Ek moedig my kinders aan om tussen die wingerd deur te stap na die skool waar moontlik. Die boere verstaan en die kinders is baie soet en pluk nie die druiwe nie.”

Gerhard Lottering (11), die plaasskool se onderhoofseun, sê hy voel maar onveilig as hy in die oggend vanaf ’n naburige plaas skool toe stap omdat daar baie lorries op die grondpad ry. Daarom is hy “baie bly” oor sy nuwe rugsak.

Gregory Rhode is bevoorreg om in die oggend agter op ’n bakkie tot by die skool te kom, maar ook vir hom was dié sak welkom. “Ek is bly oor die rugsak. Die een wat ek het se een strêp is besig om te breek!”

Maar dan is daar nog ’n rede vir dankbaarheid. “Die kin­ders het gister met hulle goedjies in plastieksakke hier aangekom. Dié wat wel iets gehad het om daarin te sit. So die rugsak is báie welkom,” sê Cindy.

Gemeentes wat betrokke wil raak by Visibility is Life kan Carla Portwig by carla@visibilityislife.co.za kontak. Besoek ook www.visibilityislife.co.za vir meer inligting.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top