“Moenie self wraak neem nie … oorwin die kwaad deur die goeie.” Dié woorde word deur die drie Afrikaanse susterkerke uit die Bybel aangehaal in ‘n verklaring waarin hulle hulle ontsteltenis oor misdaad in Suid-Afrika uitspreek. Die volledige verklaring lui:
Die Tussenkerklike Raad (TKR) is ’n ekumeniese forum waar die Nederduitse Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verteenwoordig word. Die TKR het op 15 Februarie 2017 in Pretoria vergader en die volgende getuienis teenoor owerheid en onderdaan opgestel:
Die TKR moes noodgedwonge weer kennis neem van die omvang van geweldsmisdaad en moord in Suid-Afrika. Die TKR spreek hulle ontsteltenis uit oor hoe goedkoop misdadigers menselewens ag, hoe alledaags berigte van moord geword het, en watter maatreëls gewone wetsgehoorsame burgers vir hulle eie veiligheid moet tref – dikwels steeds tevergeefs. Die TKR doen ’n dringende beroep op die owerhede om daadwerklik op te tree om misdaad te voorkom en misdadigers te vervolg, en die TKR doen ’n beroep op die kerke se lidmate om vir die owerheid te bid, en om te midde van beproewing steeds op die Here te vertrou en Jesus Christus na te volg deur liefde teenoor alle mense te bewys. Romeine 12:17-19,21: Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God … Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Dr Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk
Dr Wouter van Wyk
Sekretaris: Kommunikasie
Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika
Ds Cassie Aucamp
Voorsitter: Deputate Ekumenies
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
