“In Aranos waar die stilte woon
is die sonsak rooi soos die duinesand.
Hier leef opkyk-mense, oop-kop-mense
gelowig en regop en hand-aan-hand.”
Só sing die temalied van Trots Aranos – die projek waarvoor Retha Olivier 2016 se Landbouvrou van die Jaar-toekenning van die Namibiese Landbou-Unie (NLU) ontvang het. Erkenning, waardering vir die verskil wat sy in baie mense se lewe maak.
Trots Aranos is ook bekroon as die NLU se beste gemeenskapprojek van 2016.
Retha en haar staatmaker-man, André, die huidige moderator van die Namibiese Sinode en predikant van die NG gemeente Aranos, boer buite Aranos op die pragtige rooiduinplaas, Areams. Retha het haar lewenslus van haar pa gekry. En geloofsvertroue by haar ouers geleer: Om oor grense te beweeg, nuwe dinge aan te pak, stamina te hê vir die insette wat dit verg.
Sy verdwyn nie in gemaksones nie. Sy, wat eers “nie om ’n rugbyveld kon hardloop nie”, het al die Comrades aangedurf vir ’n gemeente se fondsinsameling. En, ná gevorderde borskanker, die Swartbergpas en die Tour de France se bergroete saam met mede-kankervegters op fietse uitgetrap. Sy het selfs ’n silwer medalje by ’n draakboot-roeikompetisie in Singapoer gewen.
“Soveel mense het al belê in my lewe. Ek het soveel om weer vir ander te gee!” Met hierdie ingesteldheid lei sy Trots Aranos sedert 2014.
Met finansiële hulp van Eerste Nasionale Bank (ENB) het Trots Aranos begin rommel herwin. Meer as vier ton al! Die skole, die boere, die besighede, die dorpsmense en vyf kerke – almal word betrek. Vir elke kilogram herwonne weggooigoed, kry die skoolkinders ’n koepon ter waarde van 1 Namibiese dollar, wat hulle by ’n spesiale Saamstaan-winkel kan ruil vir kos of lewensnoodsaaklikhede.
Die vier laerskole en een hoërskool kompeteer ook om te sien wie die kreatiefste, mees praktiese, bruikbare goed uit rommel kan ontwerp. 2016 se wen-skool, Cambridge Primêr, het mooi snippermandjies vir hulle klaskamers gemaak uit die koshuis se groot konfytblikke, draad en tou.
Hulle het ook stene vervaardig uit weggooikoerantpapier om mee vuur te maak. En ou bottels omskep in glase wat nou as bêreplek dien vir potlode en kwasse in die klaskamers.
Trots Aranos het verder ’n koorkompetisie uitgeskryf. “Want ons mense sing mos mooi!” Elke koor moes die landslied, die Trots Aranos-lied en ’n inheemse lied sing. Die wenners, ’n Nama-koor van 20 leerders uit Aranos Primêre Skool, se prys was ’n optrede in Windhoek by die NLU se Vrouekongres waar Retha se prys oorhandig is.
“Dit was wonderlik,” vertel sy, “’n klein bietjie bemagtiging, and they stepped up to the moment.”
Vroue wat by Trots Aranos se werkskeppingsprojek naaldwerk doen, het vir hulle spesiale koordrag gemaak. Een vrou maak ook skooluniforms. Ander maak en verkoop inkopiesakke. Hulle bedryf ook ’n voedings- en ondersteuningsprogram: Op pensioendag, by die hospitale, vir kaalvoetkinders, karretjie-mense. Twee vroue het op eie inisiatief voor die matrieks se eindeksamen vir hulle ’n ete gegee en vir hulle gaan bid. Die skoolhoof het spesiaal gebel om dankie te sê: “Mevrou, ons ken dit nie.”
Hierdie netwerke is Trots Aranos se ratte wat geolie word deur goeie verhoudings. Eenheid in verskeidenheid.
“Ek het gesien wat dit doen aan mense as daar hoop kom,” sê Retha, “Ons, mense, kerke, vestig spirale van hoop. Inspireer ook ander om deel te neem. Laat dié wat uitsigloos geword het sien daar ís hoop: Omstandighede en patrone kán verander!”
In Aranos waar die hemel blou
oor die warm aarde buig en waak
leef daar saamstaan-mense, omgee-mense
wat met heelmaak-hande aan mekaar
en aan hulle mooi omgewing raak.”
