Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Doen vanjaar ’n koolstofvas

Christene wat jaarliks tydens Lydenstyd van iets soos koffie of sjokolade vas, kan gerus vanjaar ’n koolstofvas oorweeg.

Dit is die oproep uit verskillende kerklike kringe wat hulle daarvoor beywer dat Christene meer moet om­gee vir die aarde wat God aan mense toevertrou het.

’n Nuusbrief van die Wêreldraad van Kerke berig dat eerw Thomas K Oommen, moderator van die Kerk van Suid-Indië, sy lidmate in ’n omsendskrywe aan­ge­moe­dig het om vanjaar ’n koolstofvas te oorweeg.

Dit beteken dat lidmate minder dinge doen wat die omgewing beskadig deur koolstof in die atmosfeer vry te laat. Die koolstofvas sluit egter ook ander omge­wingskwessies in wat nie direk verband hou met koolstof nie, soos waterbesparing.

In Suid-Afrika het die Green Anglicans selfs ’n ka­len­der opgestel met wenke vir elke dag van Lydenstyd. Dit sluit voorstelle in soos:

  • Ry fiets werk toe, pleks van met jou motor.
  • Haal bevrore vleis vroeg uit die vrieskas sodat dit self ontdooi, pleks om energie daarvoor te gebruik.
  • Eet minder vleis. Indirek bespaar dit op water- en energieverbruik.
  • Kyk mooi wat jy eet en probeer minder kos mors.
  • Stort vinniger en gebruik minder water.
  • Dink na oor jou doop en die geestelike betekenis van water in jou lewe.

Die koolstofvas kan gelowiges help om deur klein leefstylaanpassings te doen, ’n bydrae tot ’n gesonder om­ge­wing te lewer.

Oommen se boodskap aan sy lidmate is: “Sluit aan by die koolstofvas, want jy kan die wêreld ’n bietjie ver­ander in 40 dae. Maar belangriker: Jy kan jouself baie verander!”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top